Kopseer met gimgelde
2009-11-26
Lise Beyers
TERWYL verskeie rugbyhelde van die Paarl tans oorsee reis, moet hul voormalige kliënte steeds maandeliks betaal vir ’n diens wat nie bestaan nie. Springbok-breier Peter de Villiers, Wayne Julies, voormalige Springbok wat nou in Frankryk pronk, asook twee ander vennote, dr Jamie Claasen en Willie Small, het twee jaar gelede ’n gimnasium, Sport Excellence Gym, geopen by die Bergrivier kantoor-kompleks. Die lewe van hierdie besigheid was egter van korte duur en hulle het vroeër vanjaar hul deure gesluit, maar steeds word lidmaatskapgelde van lede afgetrek. Een voormalige kliënt vertel dat alhoewel die besigheid nie meer bestaan nie en haar lidmaatskap in elk geval verval het, word R120 steeds maandeliks vanuit haar rekening getrek. “Ek het probeer om hierdie debietorder te stop by my bank, maar dit hou net vir drie maande, dan word dit weer geaktiveer. “En elke keer as ek by die bank moet ingaan om dit te stop, dan moet ek byna R50 hiervoor uit my eie sak betaal. “Ek betaal vir ’n diens wat nie bestaan nie, en basies, wat my betref, beroof die mense van Sport Excellence Gym vir my.” Sy oorweeg regstappe as die situasie nie vinnig opgelos word nie. ’n Woordvoerder van die insolvente gimnasium het gesê dat hulle onder die indruk was dat die bankrekening van die gimnasium reeds gesluit is, en het belowe dat hulle dringend aandag sal gee aan die saak.
More
News
|