Erg beseer
2009-11-26
Lise Beyers
’n SKOLIER van die Paarl se vooruitsig vir die Kersvakansie is maar vaal, nadat hy onder die wiele van ’n vragmotor beland het. Martin Liebenberg (14) was Woensdagoggend van sy huis in Skoolstraat onderweg na Hoërskool Gimnasium waar hy ’n leerder in graad 8 is. Toe hy Langstraat oorsteek, het ’n vragmotor vanuit Hoofstraat ingedraai. Martin het onder die wiele beland en sy bekken is gebreek, asook sy linkerbeen. Die ligamente van sy regterknie is geskeur en sy linkerarm is erg beseer. Hy is na die Paarl MediClinic vervoer waar ’n noodoperasie op hom uitgevoer is. Hierna is hy tot Maandag in die intensiewe-sorgeenheid behandel. Vir Martin lê ’n lang pad na herstel nog voor. Hy sal ten minste vir nog ’n week hiér wees en dan nog ’n week in die Optenhosp-sentrum vir rehabilitasie. Dan word daar verwag dat hy vir die meeste van die Kersvakansie ook bedlêend sal wees. Martin se ma, Colleen, het gesê dat hy gereeld hier met sy fiets gery het en die pad goed ken. “Maar nou wil hy niks van ’n fiets weet nie.” Inwoners van die gebied het kort ná die ongeluk hul ontevredenheid oor roekelose vragmotorbestuurders uitgespreek. Die spesifieke vragmotor wat betrokke was in die ongeluk, is verbonde aan Meadow Voere in Westhovenstraat. Padgebruikers kla dat hulle veral in Langstraat en die Bergrivier Boulevard voet in die hoek sit. Nou vra die publiek dat daar ’n algehele verbod op vragmotors tydens spitstye op plaaslike paaie geplaas moet word, juis weens die teenwoordigheid van talle skoliere wat in hierdie tye onderweg na skole toe is. ’n Woordvoerder van Meadow Voere, Gary Arnold, het gesê dat die maatskappy die voorval ondersoek. * A Paarl boy has been seriously injured by a Meadow Feeds truck.
More
News
|