Paarl troef Wellington
2009-11-26
PAARL KRIEKETKLUB se eerste span het Saterdag deeglik hul man gestaan teen Bella Roma Wellington-CPUT Krieketklub, toe hulle ’n 68-lopie oorwinning op die Pen Basson-velde behaal het. Die besoekers, Paarl (207/5), het eerste gekolf en was vroeg reeds in die moeilikheid toe albei openingskolwers hul paaltjies verloor het met die telling op 3/2. Curtis Fourie (55, 5x4) en Lee-Roy Walters (96*, 10x4) het egter gesorg vir ’n vennootskap van 159 lopies om die derde paaltjie, om aansien tot die besoekers se telling te bied. Lynal Jansen (27) het aan die einde van die kolfbeurt ook ’n blitsige 27 lopies (4x4) aangeteken. Jaco Strydom (2/52) en C Abrahams (2/29) was die tuisspan se suksesvolste boulers. Wellington (139/7) se kolfbeurt het ook rampspoedig begin, met drie paaltjies wat gekantel het met slegs 26 lopies op die telbord. W Groeneveldt (27, 3x4) en C Schreuder (45, 3x4 en 2x6) het egter die telling na 81/4 geneem in 29 boulbeurte. Die besoekers se boulers het egter die druk begin toepas, met die gevolg dat Wellington slegs ’n verdere 58 lopies kon aanteken, vir die verlies van drie paaltjies. Paarl II (253/5) het op sy beurt vir Young Peoples II (111/10) op die Daljosafat-sportgronde met 142 lopies getroef. Darryl Hendricks (124*, 17x4 en 1x6), Kurt Martin (48, 5x4), Lyndon Fredericks (4/36) en Rohan Goetham (3/24) het grootliks bygedra tot Paarl se groot oorwinning. Paarl III het met drie lopies vasgeval teen Paarl-Oos III (210/10) op Allandale. C Davids (32, 6x4 en 3/43), G Poggenpoel (36, 2x4) en E Brown (2/28) het uitgeblink vir Paarl-Oos, terwyl Clint Fortuin (67, 6x4), Randal Groenewald (40, 3x4 en 1x6), Kyle Marthinussen (2/25) en Craylow Rhaman (2/18) uitgestaan het vir die span van die Paarl. Paarl IV (272/4) het vir Spes Bona II (194/10) met 78 lopies geklop op die Parys-velde. Waldo Tala (74, 7x4), Keenan Cupido (98, 7x4 en 4x6), Shane Jacobs (2/22), Desmond Marthinussen (3/24) en Clint King (3/39) het aan die tuisspan ’n oorwinning besorg. Eerskomende Saterdag speel Paarl I teen Paarl-Oos I op Parys, Paarl II en IV speel teen Drakenstein Edu weg en Paarl III pak Stellenbosch & Distrikte op Stellenbosch. * Paarl Krieketklub hou sy maandelikse funksie op 5 Desember in die vorm van ’n biefstuk, skyfies en slaaiverkope teen R45 per bord. Kaartjies is beskikbaar by bestuurslede.
More
News
|