Stemmet swem met Haaie
2009-11-26
Jaco van Wyk
NÓG ’n belowende jong rugbyspeler het WP-rugby ontglip. Jean Stemmet, ’n oud-leerder van Hoërskool Gimnasium en bobaas-senter van Maties Rugbyklub op Stellenbosch, het onlangs ’n kontrak van een jaar met die Natalse Haaie onderteken. Met die oorvloed rugbytalent in die Kaap, het WP oor die laaste klompie jare bekend daarvoor geword dat gehalte-spelers onder hul neuse weggeraap word. Stemmet (23), wat in 2003 en 2004 as buitesenter uitgedraf het vir Gim se eerste rugbyspan, tel beslis onder dié groep spelers. Terwyl die Westelike Provinsie tot dusver Stemmet se talente tot ’n sekere mate versmaai het, kon die Haaie nie sy uithaler-spel in vanjaar se Varsity-beker ignoreer nie. En nou gooi die Haaie hom sommer aan die diep kant in. Hoewel Stemmet eers Maandag by sy nuwe spanmaats in Durban aangesluit het, is hy sommer reeds hard aan die sweet vir aanstaande seisoen se strawwe Super14-seisoen. “Die Haaie het gesê hulle is op soek na ’n buitesenter, maar vir my gaan dit eerder oor die uitdaging om myself op ’n hoër vlak te bewys,” sê Stemmet. “Gelukkig is die opset hier baie professioneel, so ek het lekker ingeskakel.” Stemmet het WP al op alle ouderdomsvlakke verteenwoordig, dus stry hy nie met die feit dat die streeptrui baie na aan sy hart lê nie. “Ek het al my junior rugby vir WP gespeel, so ek is uit en uit ’n WP-seun. “Natuurlik sal ek eendag vir WP wil uitdraf, maar op die oomblik is ek baie opgewonde oor die pad vorentoe saam met die Haaie,” sê Stemmet.
More
News
|