DIE “Afrikaans aan die Praat”-uitstalling oor die geskiedenis van Afrikaans word tot einde Maart by Die Afrikaanse Taalmuseum en ander instansies in die Paarl en omgewing vertoon.
In ’n reeks drietalige panele, in Afrikaans, Engels en isiXhosa, spoor die uitstalling breedweg die geskiedenis van Afrikaans na, beginnende by sy Nederlandse/Europese wortels en Khoekhoe en slawe-invloede - ’n geskiedenis wat daartoe gelei het dat verskeie sosiale historici Afrikaans as ’n semi-kreooltaal bestempel.
Dit reflekteer die Britse koloniale owerhede se verwerping van Nederlands en Afrikaans, die opkoms van Afrikaans as ’n instrument vir Afrikanernasionalisme in die vroeë 20ste eeu, en die opbloei van die taal in die veranderde sosiale en kulturele landskap van Suid-Afrika ná 1994.
Die uitstalling het ’n moderne, kleurryke benadering met die gebruik van teks, foto’s en kunswerke.
By die Taalmuseum in Pastorielaan word die inleidende paneel en ’n landkaart met taalstatistieke vertoon, asook die panele getiteld Ontmoet Afrikaans – Afrikaans van naderby, Nederlandse oorsprong, Afrikaanse vroeë ontwikkelinge, en Invloed van slawe.
Die ander deelnemende instellings in die Paarl sluit in die Paarl Museum (Sendingstasies en die taal, Taalontwikkeling op sendingstasies en Baanbrekerswerk op Genadendal), Meulstraat biblioteek (Afrikaans: nuwe geleenthede – taalherlewing), en Drakenstein biblioteek in Paarl-Oos (Afrikaans: 1910 tot vandag – die stryd om bevryding). Laasgenoemde biblioteek ondergaan tans restourasiewerk en sal die uitstalling vanaf 11 Desember huisves.
Op Wellington word ’n paneel oor Afrikaner-nasionalisme by die dorpsbiblioteek en ’n paneel getiteld “Ná 1994 en sy toekoms” by Vanwyksvlei biblioteek vertoon, terwyl besoekers die paneel “Regte Afrikaans? ’n Vroeë Taalbeweging” by Franschhoek biblioteek kan besigtig.
Vir meer inligting oor die uitstallings, kontak die Taalmuseum 021-872-3441.