Paarl SPCA/DBV is dankbaar!
2009-12-03
DIE jaar is amper aan ’n einde en die Paarl SPCA/DBV kan terugkyk op ’n goeie en suksesvolle jaar en daarvoor moet ons die publiek en besighede bedank. Sonder julle sou die jaar nie so ’n groot sukses gewees het nie. Op Lentedag het ons ’n gholfdag by Paarl Gholfklub gehou wat ’n groot sukses was. Dankie aan elke deelnemer en ’n groot dankie aan Paarl Gholfklub. Ons beplan om volgende jaar groter te gaan met ons gholfdag, so stof solank die gholfstokke af en hou jou reg vir die Paarl SPCA/DBV gholfdag 2010. Ons het ons blikkies wat by die besighede staan, so ’n bietjie van ’n “make-over” gegee. Ons wil vir elke besigheid wat vir ons toestemming gee om ons blikkies by hulle te laat staan, ’n groot dankie sê. Dankie vir wat julle vir Paarl SPCA/DBV doen. Dankie ook aan die publiek wat ons blikkies in die besighede ondersteun. As daar nog nie ’n blikkie in jou besigheid staan nie, kontak ons gerus. Dit gaan alles vir ’n goeie saak. Ons staan so twee keer ’n jaar met blikkies op ’n Saterdagoggend by verskeie winkels in die Paarl. Weer eens sal hierdie dae nie moontlik wees sonder die toestemming van die winkels en sonder die bereidwillige mense wat vir ons staan nie. Miskien kan jy ons dalk volgende jaar uithelp. Ons het altyd mense nodig. Baie dankie aan almal en aan elke persoon wat sy los sente in ons blikkies kom gooi, elke sent raak ’n rand en elke rand help ’n dier. Ons pretloop op 14 November was ’n heerlike dag gewees. Ons wil ’n groot en spesiale dankie sê aan elke besigheid. As dit nie pryse was wat julle vir ons gegee het nie, was dit broodjies vir ons worsrolletjies. Ons het so baie pryse gekry dat elke deelnemer met ’n prys kon wegloop! Baie dankie aan al ons donateurs. Aan elkeen wat deelgeneem het, baie dankie dat julle ons ondersteun het. Daar was ’n paar honde wat baie moeg was na die pretloop, maar ons glo almal het dit baie geniet. In Julie het die Paarl SPCA/DBV hulle eie webtuiste oopgemaak. Ons webtuiste word gereeld op datum gehou en is propvol interessante inligting oor wat ons doen en wat julle kan doen vir die diere. Gaan besoek ons gerus by www.paarlspca.co.za. As julle wil deel raak van wat ons doen en waarvoor ons staan, raak ’n lid van die Paarl SPCA/DBV. Laat hoor jou stem en kom praat vir dié wat nie vir hulself kan praat nie. Kontak ons enige tyd vir meer inligting.. Die Paarl SPCA/DBV wil vir elkeen ’n baie Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige Nuwejaar toewens. As julle wil weggaan met vakansie, maar nie weet by wie julle jul troeteldiere kan los nie, skakel ons gerus. Ons loseerpryse is baie billik en by ons gaan jou troeteldier nie ’n tekort aan aandag en liefde kry nie. Dieregroete. Paarl SPCA/DBV
More
News
|