HOE laag kan ’n mens werklik daal en wat sou die rede daarvoor wees?
Is dit blatante onbeskoftheid of sommer net ’n baie lae IK (dalk geen)? Het hy geen selfrespek nie?
Dit is van die vrae wat ek vra nadat ’n persoon Sondagoggend gedurende kerktyd vir die tweede keer in bykans net soveel maande sy partytjie-rommel bestaande uit leë drankbottels, leë koeldrankbottels, leë sigaretdosies en ander partytjie-rommel reg voor my deur in ’n park in Buitekantstraat, Vrykyk, Paarl, kom aflaai het.
Die vorige keer nadat hy, ook op ’n Sondagoggend gedurende kerktyd, sy partytjie-rommel hier afgelaai het, het my buurman dit met sy bakkie weggery.
Hierdie keer het ek my eie vullisdrom straat toe gesleep en tot oorlopens toe vol van hierdie gemors gemaak.
Die vermoede bestaan dat dit ’n blanke man is wat met ’n Opel motor ry. Te oordeel aan al die leë drankbottels is dit ook moontlik dat sy breinselle al so deur die drank opgevreet is dat hy nie meer nugter kan dink nie, daarom dat hy sy gemors voor my deur kom aflaai.
Die munisipale stortingsterrein in Distillerystraat is elke dag behalwe Sondae oop sodat mense hulle rommel gratis daar kan gaan aflaai.
Sowat van ’n swak karakter het ek baie lank laas gesien.Johan du Toit