Hierdie manewales moet nou end kry
2005-09-01
Ek verwys na al die briewe in die Paarl Post rakende al die negatiewe kritiek rondom die Munisipaliteit en ons dorp.
In die briewe word vrae gevra waarom die Munisipaliteit en Paarl in so ‘n patetiese toestand is. Die antwoord is voor-die-hand-liggend.
Elke vyf jaar word verkiesing gehou en elke inwoner van Drakenstein wat nie sy/haar stem uitbring nie, is deels verantwoordelik vir die gebeure in ons dorp en in die Munisipaliteit.
Elke stem wat nie uitgebring word nie, is ‘n ja stem vir watter party ook al die volgende vyf jaar die Munisipaliteit gaan beheer.
Met ander woorde die persoon wat nie stem nie, sê hy/sy is tevrede met die party wat aan bewind gaan kom, ongeag die party, en so word die opposisieparty ook nadelig geraak omdat daar nie genoeg opposisielede in die Raad is nie.
Dit veroorsaak dat een party ‘n absolute meerderheid het en dan vind gebeure plaas soos wat nou in Drakenstein aan die gang is.
Geen verandering aan die politieke party wat die Munisipaliteit beheer, kan plaasvind tot die volgende verkiesing nie.
Inwoners 18 en ouer in Drakenstein het ‘n verpligting teenoor hulself en ons dorp om seker te maak dat hul registreer en gaan stem.
Geen inwoner kan meer sê “ek gaan nie stem nie, my stem beteken tog niks nie” en verdere verskonings uitdink nie.
Ons kan nie meer so ‘n onbetrokke houding bekostig nie. Dit is uiters noodsaaklik dat elke inwoner sy stem sal uitbring om sodoende die langerwordende soustrein met die dik sous te stop.
Kontak die politieke party waarvoor u wil stem vir verdere inligting en raak betrokke. ‘n Iedere en elke inwoner van Drakenstein se stem is noodsaaklik - dit is al manier hoe daar ‘n ommeswaai in Drakenstein kan plaasvind: MET ELKE INWONER SE STEM!
Betrokke
More
News
|