Bedrieër vat die pad
2009-12-03
Lise Beyers
’n PLAASLIKE skoonheidsalon is R1700 armer, nadat ’n vermeende bedrieër haar laat mooi maak het en toe verdwyn het. Salon-eienaar Hanlie Calitz vertel dat ’n vrou wat haarself Roselin Bassett noem, sowat twee weke gelede by hulle aangeklop het vir ’n kwotasie vir permanente grimering. Die kwotasie is na haar per epos gestuur en daar is by wyse van selfoon ook met mekaar gekommunikeer. Bassett het ’n afspraak gemaak vir hierdie behandeling en sy het ook die salon se bankbesonderhede aangevra, sodat sy die betaling in hul bankrekening kon maak. So is sy gepamperlang by Wellington Osoonkliniek en het belowe dat sy die geld in hul bankrekening sal betaal. Maar sedertdien het syverdwyn. “Baie van ons kliënte betaal per internet gelde in ons bankrekening. Nou het ons ons vingers verbrand,” sê Calitz. Die selnommer en landlyn kom by onbekendes uit. Ook die epos-adres waarmee hulle gekommunikeer het, bestaan skielik nie. Maar Calitz het dit nie daar gelaat nie. “My man en ’n vriend wat ’n privaatspeurder is, het hul eie ondersoek ingestel. Hulle het Bassett se naam ge-Google en wat hulle gevind het, kan bewys dat hierdie vrou ’n bedrieër is.” Op die webtuiste van Gumtree, wat ’n internet-snuffelgids is, staan die naam Roselin by ’n advertensie vir ’n luukse huis wat te huur is in Franschhoek. Die beskrywing van die huis is heel indrukwekkend – vier slaapkamers, drie motorhuise, geleë op ’n landgoed tussen wingerde ensovoorts. Maar wat die waarskuwingstekens laat flikker het, is die feit dat die huur van die huis slegs R5400 per maand is. En dan word ’n deposito van net R2 400 gevra. Wanneer die kaart aangevra word van presies waar die huis geleë is, verskyn ’n kaart van die Paarl en die adres wys op ’n huis in die middedorp - wat nie juis ooreenstem met die beskrywing wat op die webwerf gegee is nie. En die epos-adres stem ooreen met dié waarmee Calitz met Bassett gekommunikeer het, maar boodskappe kom terug. Hier staan wel ’n waarskuwing dat mense nie net geld in bankrekenings moet inbetaal vir transaksies nie, maar dat hulle eers die goedere moet besigtig. Vroeër vanjaar is daar breedvoerig berig oor ’n soortgelyke bedrogspul, waar ’n man, ook op die Gumtree-webwerf, vakansie-eiendom geadverteer het. Talle onskuldige lede van die publiek is ingeloop toe hulle deposito’s hiervoor in ’n bankrekening betaal het, net om hul geld en hul vakansie kwyt te wees. Calitz het gesê dat die vrou blonde hare en bruin oë het en sy skat haar so ongeveer 28 jaar oud. Sy beoog om ’n klag van bedrog te lê by die Wellington polisiestasie.
More
News
|