DIE talentvolle Mari Bosman van die Mari Bosman Band het onlangs haar debuutalbum, ‘Realiteit’, bekend gestel. Sy open Sondag om 19:00 Karen Zoid se konsert by die Brackenfell Plaasteater.
Mari is van die Paarl en tree al vir sowat vier jaar op in veral die Stellenbosch-omgewing. Sy skryf en komponeer haar eie musiek en word bygestaan deur ’n vierstuk-band, met musiek wat varieer tussen rock en pop/rock.
‘Realiteit’, word beskryf as ’n moet in die CD-versameling van enige Afrikaanse en Engelse rock-liefhebbers!
Een van haar vorige liedjies, Londen, het reeds die Afrikaanse musiekprogram MK gehaal. Hierdie feesseisoen is vakansiegangers langs die Tuinroete, die Wildekus of die Suidkus in vir ’n verrassing wanneer Mari, Heather Waters, Natali Shaked en hul bands kuslangs gaan toer en mense vermaak met hul unieke, oorspronklike musiek.
Heather se unieke lirieke en Natali (ook bekend as Nat and the Beanstalks) se uitstaande verhoogpersoonlikheid sal enige gehoor vermaak met hul energieke optredes.
Gedurende die toer, genaamd ‘Girls Rocking the Road 09/10’ neem hul ook deel aan verskeie gemeenskapsprojekte wat gemik is daarop om mense bewus en deel te maak van projekte om die nood in die land te verlig. Optredes in bekende vakansieplekke soos Knysna, Plettenbergbaai en Koffiebaai gaan vir seker groot hoogtepunte wees. Besoek www. roadtrippinsa.com of www.maribosman.com.