Gru-ongeluk eis musikant
2009-12-03
Lise Beyers
’n BELOWENDE jong musikant van die Paarl is vroeg Sondagoggend in ’n gru-botsing op die N1 oorlede. Hy het in die motorwrak verkool. Peter-John Pekeur (26), seun van die bekende Paarlse kunstenaar Selwin Pekeur, het Saterdagaand saam met sy vriendin, Bronlin Scheepers, en nog vriende na haar jaareindfunksie by Tygervallei gegaan. Peter-John se suster, Shené, en haar vriend, Clayton Brom, het ook by die geselligheid aangesluit. Omstreeks 03:00 is Bronlin saam met die res van haar kollegas in ’n gehuurde minibus terug na die Paarl. Peter-John, sy suster en Clayton het agtergebly. Twee van Bronlin se kollegas, Chantal Williams en Christo Anderson, vertel dat hulle naby die Klipheuwel-afrit skielik ’n geweldige stamp van agter gevoel het. “Die drywer van die minibus het byna beheer oor die voertuig verloor en ons het oor die pad geswenk voordat ons tot stilstand gekom het. “Peter-John se voertuig het agter ons op die dak gelê. Shené was reeds uit die motor en ons het gehardloop om te help. Die motor het begin brand en Grant Abrahams het vir Clayton na veiligheid gebring, maar Peter-John was vasgekeer. “Rudeaux Manas wou hom uithaal, maar die vlamme was reeds te hoog. “Ons het hulpeloos gestaan en kyk hoe vlamme die hele voertuig verswelg.” Peter-John was waarskynlik reeds dood voordat die motor begin brand het. Clayton en Shené is na Tygerberg Hospitaal geneem met verskeie beserings, maar is Maandag ontslaan. Peter-John het by Klein Nederburg Sekondêr gematrikuleer en het van jongs af sy pa se kreatiewe talent getoon. Hierna het hy grafiese kuns gestudeer, voordat hy dié kuns verruil het vir dié van musiek. Hy het sy eie musiek geproduseer en dikwels opgetree by funksies onder die naam Panaiks. Hy sou volgende jaar in Maart sy eerste album uitreik en het ’n oorsese reis beplan om sy musiekloopbaan te bevorder. ’n Musiekvideo waarop Peter-John optree, kan gesien word op die YouTube webwerf. Sy ouers, Selwin en Patricia, is platgeslaan deur die voorval. “Hy was ’n wonderlike kind en het nie verdien om só wreed te gaan nie.” Vandeesweek was die Pekeur-huishouding in Waboomlaan, New Orleans, getuienis van hierdie jong man se gewildheid. Vriende van heinde en ver het na die woning gestroom om hulde te bring aan hul vriend. Mede-musikante het gesê, “sy leuse was ‘the beat goes on’. En dit is presies wat ons gaan doen.” Die begrafnis is Saterdag vanuit die familiewoning om 10:30, en daarna om 11:30 by die Strauss-saal. * A promising young musician and son of a well-known Paarl artist, has died in a horrific motor accident.
More
News
|