Agri-Expo vereer vir Kaasfees
2009-12-03
AGRI-EXPO, die organiseerder van die SA Kaasfees en From the Earth, het onlangs twee van die top toekennings tydens die Exhibition and Event Association of Southern Africa (EXSA) se toekenningseremonie in Johannesburg verower. Die SA Kaasfees wat kaasliefhebbers reeds vir byna tien jaar betower, is vir die tweede keer aangewys as die beste uitstalling van die jaar in die handels- en verbruikerskategorie vir geleenthede 12 000m² en groter. “Vir ons lê die sukses van die SA Kaasfees nie bloot in die duisende besoekers wat jaarliks na die fees stroom nie, maar ook in die geleenthede wat geskep word vir klein kaasmakers om hul ware bekend te stel en vir besoekers om die verskeidenheid van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf te ervaar,” sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo. ’n Verdere pluimpie vir Agri-Expo het gekom in die vorm van ’n sertifikaat vir uitmuntendheid in die handels- en verbruikerskategorie (6 000 tot 12 000m² vir die onlangse From the Earth ekspo. Hierdie ekspo het sy visier op stedelinge gemik met die unieke boodskap van “die platteland kom stad toe” – ’n effektiewe benadering in ’n tyd waar stedelinge hunker na ’n meer natuurlike en aardse lewenstyl. Die beoordeling het gefokus op elemente soos die bemarkingsveldtog, kwaliteit en visuele impak van die geleentheid, rampbestuur/veiligheid en sekuriteit, funksionaliteit, spesiale glanspunte en sosiale verantwoordelikheid. “Ons is veral opgewonde dat nie minder nie as twee landbouverwante geleenthede die guns van die beoordelaars gewen het in so ’n vooraanstaande kompetisie. “Die SA Kaasfees en From the Earth streef daarna om stedelinge die ryk diversiteit van landbou te laat ervaar en hierdie toekennings bevestig dat ons op die regte koers is wat kwaliteit, fokus en relevansie betref. Ons wil graag ons landbouvennote bedank vir hul entoesiasme en volgehoue ondersteuning,” sê Ehlers. Kaasliefhebbers hoef nie bloot op die uitslae van ’n kompetisie staat te maak om ’n smakie van die goeie lewe te kry nie. Kaartjies vir die 2010 SA Kaasfees (24-27 April) is van 1 Desember by Computicket (Checkers/Shoprite) beskikbaar.
More
News
|