Val de Vie wil uitbrei
2009-12-03
DIE Val de Vie Polo- en Wynlandgoed beoog uitbreidings, insluitend ’n hotel, woonstelle en kantore. Goedkeuring is reeds vir ’n 60-kamer hotel gegee, maar nou beoog Val de Vie ’n vyf-ster hotel met 160 kamers, sê Martin Venter, eienaar van Val de Vie. “Ons beoog om ’n internasionale hotelgroep by die hotel te betrek, en om groepe se belangstelling te wek is dit nodig dat die hotel se grootte uitgebrei word. “Die woonstelle wat beplan word, sal direk inskakel by die hotel en moontlik as deel van ‘n ‘rental pool’ deur die hotel bestuur word.” Die goedkeuring soos dit tans staan, maak voorsiening vir ’n hotel, ’n groepsbehuisingskema van ongeveer 33 wooneenhede (digtheid ongeveer 20 eenhede per ha) en ’n tweede wynkelder met wynproe en wynverkopefasiliteit. Val de Vie versoek nou dat die hotel geskuif word na die wynkelderterrein en dat die aantal kamers vermeerder word na 160 kamers. Hulle versoek ook dat die groepsbehFuisingskema uitgebrei word om ’n groter terrein te beslaan en dat die digtheid verhoog word na 30 eenhede per hektaar. ”Die doel is dat kantore en sakegebruike as deel van hierdie groepsbehuisingskema geïnkorporeer word. “Ons wil nie van ons regte gebruik maak om ’n tweede wynkelder te bou nie. Ons wil ‘n “sagter” ontwikkeling doen wat meer inpas by die lewenstyl van die huidige Val de Vie. “Ek dink die veranderinge gaan ’n beter posisionering van die gebruike tot gevolg hê wat tot ’n hoër gehalte ontwikkeling sal lei. “Daar het ook ’n behoefte by inwoners van Val de Vie ontstaan om kantoorruimte op Val de Vie te huur waarvandaan hulle ’n praktyk kan beoefen. “Inwoners het ook ’n behoefte uitgespreek vir iets soos ’n deli en ’n haarsalon waar hulle ’n koerant, brood en melk kan koop. “Ons voorsien so ongeveer 30 residensiële eenhede wat as kantore gebruik kan word. “Die paar kantore sal grotendeels beskikbaar gestel word aan inwoners van Val de Vie wat gerieflik naby die huis ’n kantoor wil hê. “Beleggers kan egter ’n woonstel vir eie gebruik koop of beskikbaar stel om deur die hotel verhuur te word,” sê hy.
More
News
|