Uitbreidings by krieketstadion bekyk
2009-12-03
INDIEN alternatiewe grond nie verkry kan word waar plaaswerkers in die Paarl gehuisves kan word nie, is dit dalk neusie verby vir die omskepping van Boland Krieketstadion in een van die gesogste krieketstadions in Suid-Afrika. Boland Krieket het verlede week sy aan sy met ’n swaargewig-ontwikkelingsmaat- skappy, Rabcav, by die Drakenstein Burgemeesterskomitee opgedaag en dié planne voorgelê. Dié omskepping sluit A-graad kantoorgeboue in met konferensiegeriewe en suites reg op die krieketveld. Aangrensend aan die veld word ’n gemengde besigheidspark beplan met B-graad kantoorspasie. Die hele ontwikkeling sal sowat 32 hektaar beslaan, omring deur ’n groen gordel. Al wat haper om dié projek van die grond af te kry, is dat die grond om die stadion reeds deur Drakenstein Munisipaliteit vir GAP- en plaasarbeidersbehuising geoormerk is. Omar Henry, grootbaas van Boland Krieket, sê dat die uitstekende ligging van Boland Stadion, talentvolle spelers en dié ontwikkelingsgeleentheid, dié stadion in een van die bestes in Suid-Afika kan omskep. “Krieket Suid-Afrika het reeds belowe dat Boland volgende jaar ’n internasionale wedstryd gaan kry. “Gesien in die lig van hoeveel stadions daar in Suid-Afrika is en die hoeveelheid internasionale wedstryde wat gespeel word, moet ons baie dankbaar wees oor die geleentheid,” sê hy. Leslie Viljoen van Rabcav Development het ’n geelwortel uitgehou: “Befondsing is nodig om dié fasiliteit tot sy maksimum potensiaal te laat ontwikkel. Ons is bereid om die ontwikkeling te doen, wat ook die kostes van die basiese dienste insluit,” sê hy. Die grond sal verkoop word en die wins sal deur Boland Krieket en Rabcav gedeel word. Charmaine Manuel, burgemeester van Drakenstein Munisipaliteit, het ’n dringende tegniese verslag aangevra, voordat daar finaal oor die beplande ontwikkeling besluit sal word. Sy en verskeie komiteelede het aangedui dat die grond wat vir plaaswerkers geoormerk is, nie ten koste van so ’n ontwikkeling opgesê kan word nie.
More
News
|