DIE Valley Chefs beoog om op 23 Desember ’n kinderpartytjie vir sowat 4 000 minderbevoorregte en terminaalsiek kinders in die Paarl- en Wellington-omgewing te hou.
Volgens André Lingson, stigter van Valley Chefs, het hy en ’n groep kokke besluit om hul hande en potte te gebruik om minderbevoorregtes in die gemeenskap te help.
“Ons was eers drie kokke en vandag is ons 44.”
Die kokke werk by plaaslike eetplekke en daar is selfs kokke wat buite die Drakenstein-area woon wat hul tyd opoffer om hiér ’n verskil te maak.
Valley Chefs beplan om op die dag van die partytjie rond te ry en minderbevoorregte kinders se Kersfeesgety op te helder met ’n lekker bord kos en selfs ’n speelding. Lingson het gesê hulle gaan ook na hospitale toe waar hulle ook eetgoed en ’n speelding aan terminaalsiek kinders sal gee.
’n Versoek word aan die publiek gerig om ’n donasie in enige vorm vir die partytjie te gee en so te verseker dat die dag ’n groot sukses is. Vir meer inligting, kontak André Lingson by 073-389-1522.