Hugenoters blink uit oorsee
2009-12-10
MET ’n leuse soos ‘mik hoog’, het Hugenote Hoër op Wellington se sport-uitblinkers vanjaar werklik die kol getref, met altesaam 11 leerders wat Suid-Afrika op internasionale vlak verteenwoordig het. Peka Cronjé, Hugenote se beste sportman en mees veelsydige sportman van 2009, het sy land vanjaar verteenwoordig in biathle, tydens ’n toernooi wat in Suid-Afrika plaasgevind het. Hy het ook halfkleure ontvang vir atletiek en tweekamp, en ere-balkies vir atletiek en swem. Mariaan Heydenrych, Hugenote se sportvrou van die jaar en mees veelsydige dogter van 2009, het Suid-Afrika (o.15) in tennis verteenwoordig, tydens ’n toernooi in Oos-Europa. Mariaan het dié SA-span ook aangevoer. Sy het in graad 8 halfkleure vir tennis en hokkie ontvang. Hanré van der Vyver, Hugenote se mees veelsydigste sportvrou van die jaar, het in September Suid-Afrika in Biathle (in Monaco) verteenwoordig. Sy het ook ’n goue medalje gewen tydens die SA’s in Vyfkamp (o.14) en het ook halfkleure ontvang toe sy die Wes-Kaap swemspan tydens die SA’s verteenwoordig het. Hanré het ook halfkleure vir tweekamp ontvang, waar sy vierde gekom het vir Boland tydens die SA’s. Chrisjan Coetzee het vanjaar die SA snelroeispan gehaal om in Rusland deel te neem. Hy het goud verower tydens die SA proewe en een silwer en drie bronsmedaljes tydens die SA’s. Chrisjan het al twee keer halfkleure ontvang. Calene Loubser het Suid-Afrika verteenwoordig tydens die Wêreld Seilkampioenskappe in Brasilië vanjaar, waartydens sy goud gewen het in die o.19-afdeling. Sy het in 2008 erekleure vir seil ontvang. Ashley Borman en Kayla Rivelland (beide swartgordel) het albei 4 goue medaljes verower tydens ’n nasionale karatetoernooi in Japan. Melissa Oettle het die SA o.19 muurbalspan gehaal vir ’n toer na Maleisië. Sy het al drie keer erekleure vir muurbal ontvang. Shanné Maree was tweede by die SA’s in skopboks (in Sussex, Engeland) en het ’n ere-balkie vir atletiek ontvang. Twee susters, Grietjie en Pietje Stander, het albei Protea-kleure in Pensteek verower, en het gesamentlik twee bekers (uit ’n moontlike drie) gewen tydens die Nasionale Pensteek-perdrykompetisie in Suid-Afrika. Tydens die SA’s het Grietjie ook 3 goue, 2 silwer en ’n bronsmedalje gewen, terwyl Pietje 3 goue, 1 silwer en ’n bronsmedalje gewen het. Beide susters het al erekleure vir Pensteek ontvang, met Grietjie wat ook ’n ere-balkie vir atletiek ontvang het.
More
News
|