Verdrinking in plaasdam
2009-12-10
Lise Beyers
POLISIEDUIKERS het die afgelope naweek vir twee dae gesoek voordat hulle op die liggaam van ’n man afgekom het wat in ’n plaasdam verdrink het. Die polisie is Saterdagoggend verwittig van ’n moontlike verdrinking in ’n dam op die plaas Salmonsvlei in Klein Drakenstein. Met hul aankoms daar het ’n kind hulle vertel dat hy gesien het hoe ’n seisoenwerker van Ceres, Hyron Caster (18), sy klere uittrek en die water binnestap. Dit was ook die laaste wat hy gesien is. Dit is onseker of hy geweet het hoe om te swem. Duikers het die hele Saterdag ’n groot gedeelte van die dam deursoek vir enige teken van ’n lyk. Die volgende dag is die soektog voortgesit. Eers omstreeks 14:00 Sondagmiddag is Caster se lyk gevind. * ’n Meisie van Hillcrest is Saterdagmiddag by Riverside Vakansie-oord naby Franschhoek dood onder vreemde omstandighede. Gabriella Philander (14) was op ’n Sondagskool-uitstappie toe sy onverklaarbaar neergeslaan het. Sy het kort voor die voorval gaan swem in die Bergrivier. Hierna het sy uitgeklim en na haar vriende gestap terwyl sy glo ’n sjokolade geëet het. Gabriella het skielik in- mekaargesak. Noodhulpbehandeling is deur ’n mediese beampte op die toneel op haar toegedien, maar sy is kort hierna dood. Sy het so pas graad 8 voltooi by Weltevrede Sekondêre Skool. Gabriella word oorleef deur haar ma, Lola Smit, en broer en suster, Bianca en Delano. Haar begrafnis vind Saterdag om 10:00 plaas vanaf die huis te St Thomasstraat 31, Hillcrest, en daarna om 11:00 by die Nuwe Apostoliese Kerk op Wellington.
More
News
|