Kersfonds staan al byna by R50 000
2009-12-10
DIE Paarl Post Kersfonds is goed op pad na sy mikpunt van R50 000 vir vanjaar nadat pragtige skenkings vandeesweek ontvang is. Laerskool La Rochelle het R500 geskenk, en La Rochelle Hoërskool het R573 ingesamel vir die Fonds, wat plaaslike welsynsorganisasies ondersteun deur die Wes-Kaapse Gemeenskapskas. Saam met ’n anonieme skenking van R500, asook R2500 van PSG, R7000 van die drukmaatskappy Paarl Cold Set, en R25 000 van die drukmaatskappy Paarl Web, staan die fonds vandeesweek op R48 955,40. Die fonds ondersteun sowat 40 verdienstelike plaaslike organisasies en lesers word uitgenooi om dié poging ’n laaste hupstoot te gee voordat die Fonds volgende week afsluit. Alle plaaslike bydraes word in ’n afsonderlike bankrekening inbetaal en deur die Gemeenskapskas teruggeploeg in die Paarlvallei - geen bydraes van ons lesers sal aan begunstigdes buite die Paarl Post se lesersgebied uitbetaal word nie. Die Gemeenskapskas se begunstigdes in die Paarlstreek is ACVV Paarl, Paarlvallei, Wellington en Franschhoek, Sanca Paarl, Rusoord Tehuis vir Bejaardes, Silwerkruin ouetehuis, ACVV Paarl, ACVV Paarl-Vallei, Oase Dienssentrum vir Bejaardes, Badisa Paarl en Wellington, Kindersorg Paarl en Wellington, Drakenstein Sentrum vir liggaamlik gestremdes, Care Craft werkswinkel vir epilepsielyers in Wellington, Abbeyfield tehuis Wellington en Andrew Murray Kinderhuis, Haven nagskuiling, Kindersorg Paarl en Wellington, Saron Gemeenskapsdiens en Good Hope Psychological Services. Kleuterskole en kindersorgsentrums wat steun kry, is Wielie Walie, Trompie, Sinethemba, Mamzana, Lingelihle, Masibulele, Nompumelelo, Ncebekazi (gestremde kinders), Kairos (Simondium), Amstel-nasorg, Magnolia-nasorg, Rise & Shine, Little Stars, Little Flower en Siyakhula. Skenkings kan direk inbetaal word in die Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 62152029007 by FNB (taknr 261150) en faks die strokie na 086-581-0723 (aandag Kersfonds).
More
News
|