Paarl slaan Bergrivier bloedneus
2009-12-10
SATERDAG op die Parys-velde het Paarl I hul opponente van Bergrivier bloedneus geslaan deur hul met 7 paaltjies kaf te draf. Die wedstryd was reeds voor middagete afgehandel nadat die besoekers slegs 64 lopies kon aanteken. Met dié oorwinning het die Paarliete hul kanse lewendig gehou om in die top tien kompetisie deel te neem. Die besoekers het eerste gekolf, maar het gesukkel teen die vinnige manne van die tuisspan. Hilroy Paulse (4/16) en Clayton August (4/25) het die besoekers se kolwers behoorlik laat bontstaan. Darryl Hendricks (28*, 4x4) was Paarl se beste kolwer. Paarl II (232/4) het vir Wellington II (164/9) op Parys B met 68 lopies geklop. Vir die tuisspan het Carlo Crotz (110*, 14x4) en Brenton van Schoor (74*, 8x4) grootliks bygedra tot hul span se telling van 232 lopies. Wellington kon slegs 164/9 aanteken, met M Khan (38), C Ritter (40) en C Williams (30) die besoekers se beste kolwers. Vir die tuisspan het Paarl se Clint Brockman (3/30) en Lyndon Fredericks met die bal geskitter. Sondag het Paarl se o.40 span Groot Drakenstein se o.40 span met 4 lopies op Groot Drakenstein geklop. Die besoekers, Paarl, het 194 lopies aangeteken. Zurich Muller (45), Elton du Plessis (29) was die beste kolwers, met Lindsay van der Berg en Gerswin du Plessis wat ook bydraes maak. Du Plessis, Muller en Aldrin October was die sterre onder Paarl se boulers. Verlede Donderdag is verkeerdelik berig dat Grant Croutz (in plaas van Carlo Crotz) 67 lopies aangeteken het. Komende Saterdag speel Paarl I teen Young Peoples I op Daljosafat. Die volgende ronde wedstryde vind Saterdag 16 Januarie plaas.
More
News
|