Sprokiestroue vir rivierslapers
2009-12-10
Lise Beyers
TWEE rivierslapers het verlede week ’n oomblik van vreugde beleef, toe hulle in die Toringkerk in die huwelik bevestig is. Vrydag kon eenvoudig net nie beter raak vir David Kruger (46) nie, toe sy vriendin van die afgelope ses jaar, Lucy Jurens (46), geklee in ’n stylvolle wit rok, die Toringkerk binne stap tot by hom voor die kansel. En onder die wakende oog van ds Jaco Thom, het hulle ewige trou aan mekaar gesweer. Hierdie huwelikseremonie maak deel uit van die Toringkerk se uitreik-projek vir hawelose mense. Die ontstaan hiervan is te danke aan wyle dr Matie Brink wat in 2003 die ernstige kwessie van hawelose mense wat op stoepe, in stegies en teen die Bergrivier slaap, aangespreek het. “Talle van hierdie mense val immers in die bedieningsgebied van die Toringkerk,” het hy gesê. Veral die jeug het hierby betrokke geraak en deur die jare het dit al hoe wyer uitgekring. Teen 2004 is daar geestelike bystand gebied aan soveel haweloses, dat byna 40 van hulle daardie jaar ten minste een erediens per kwartaal op uitnodiging bygewoon het. En so het die uitreiking gegroei dat daar vandag elke Sondag ’n aanddiens vir haweloses is wat tans ’n bywoningsyfer van tussen 70 en 90 weekliks het. Vanjaar is daar met ’n Bybelstudiegroep begin wat bygewoon word deur 9 tot 30 haweloses. Behalwe die geestelike bystand wat haweloses van die Paarl by die Toringkerk vind, word 40 mense betrek by hul optel-projek wat twee keer per week plaasvind. Sekere areas in die dorp is geïdentifiseer, en hulle help met die skoonmaak en netjies hou hiervan. Die Toringkerk en ’n aantal sakemanne betaal lone hiervoor. By eredienste word hulle ’n worsrolletjie aangebied, en sop en brood by die Bybelstudie. So het die Toringkerk vir David en Lucy leer ken deur hul betrokkenheid by die kerk. En toe daar besef is dat hulle ’n behoefte het om hul verhouding wettig te maak, het vele hande ingespring om te help. Trouklere vir die paartjie, asook vir hul gevolg, is gereël, asook ’n blink BMW as troumotor, tafels en stoele en eetgoed vir die onthaal. En nadat al die opgewondenheid van die dag verby was, is die twee verliefdes oudergewoonte terug na hul lêplek op die oewer van die Bergrivier.
More
News
|