Paarlberg-projek stoom voort
2009-12-10
Lise Beyers
VOORMALIGE werkers van twee fabrieke wat vanjaar deur brande verwoes is, is tans druk besig om indringerbome op Paarlberg uit te wis. Werkers van Paarl Print en Novo Vrugteverpakkers, wat weens die brande werkloos gelaat is, is ingespan om deel uit te maak van die Paarlbergprojek. Die projek is die breinkind van Paarl Media en Novo om werkskeppingsgeleenthede te skep vir diegene wat juis hul werk verloor het. Groot dele van die berg is vervuil met indringerbome wat die natuurlike plantegroei van die berg verdring. Die projek is gemik op plase op die hange van Paarlberg. Onlangs het dertig voormalige werknemers intensiewe opleiding ontvang in onderandere plantkunde en metodes om indringers uit te roei. Hulle is ook gewys hoe om veilig met gifstowwe te werk te gaan wat gebruik word om indringerbome uit te roei. Indringers wat geteiken word is veral swart- en langblaarwattels, populierbome, dennebome en hakea. Die bome word uitgekap en dan met gif behandel en elke ses maande sal opvolgwerk gedoen word om enige opslaanplante te vernietig. Die uitroei van hierdie bome sal plek maak vir natuurlike fynbos om te groei. James Samuels van JSAD Kontrakteurs, wat verbonde is met die opleiding en fasilitering van die projek, is vol lof vir die werkers van die Paarlberg Projek. “Dit is nie ’n maklike taak nie en die eerste paar dae teen die hange van die berg was vermoeiend vir party. Maar hulle het vinnig gewoond geraak aan die terrein en nou lyk hulle vir my dolgelukkig. “Hulle kom hul pligte noukeurig na en ek het groot hoop vir hierdie projek.” Michael Baadjies, voorheen van Paarl Print en ’n spanleier, het gesê dat dit wel ’n aanpassing was, maar nou is hy heel gelukkig met sy omstandighede. “Dit is heel anders om die een oomblik in ’n fabriek te werk en die volgende oomblik op die berg. “Maar hoe meer ek leer oor die natuur en die belangrike werk wat ons doen, hoe meer geniet ek dit. “En wanneer ons ’n lap berggrond bevry het van populiere en jy sien hoeveel plek hulle gevat het, dan is dit baie bevredigend. “Dit is ook heerlik ontspanne om so heeldag in die buitelug te wees, ek raai dit vir enigiemand aan.” Gershwin Wiese, voorheen van Novo, voel dieselfde: “Dis iets goeds wat ons vir die natuur doen en ek geniet dit.” Margaret Kamo, ook van Novo, erken dat dit ’n groot aanpassing was. “In die begin was dit taamlik moeilik, maar weens my liefde vir die natuur het ek vinnig aangepas. “Nou is elke werksdag vir my lekker.” * Workers of two factories which were destroyed by fire earlier this year, have started clearing the slopes of Paarl Mountain of alien trees.
More
News
|