Polisie bestook ná moord
2009-12-10
Lise Beyers
LEDE van die Wellington polisie is Saterdagaand deur ontstoke inwoners van Carterville met bakstene en bottels bestook. Twee polisievoertuie is tydens die voorval beskadig en een polisiebeampte en ’n lid van die plaaswag, wat ingeroep is om te help om die situasie onder beheer te bring, is lig beseer. Die onluste spruit waarskynlik uit ’n insident wat Donderdag in Lebombostraat plaasgevind het. Drie mans het ’n Somaliese winkeleienaar, Abdul Hassan, gedreig. Toe hy hulle konfronteer, het die mans hom met klippe bestook. ’n Struweling het ontstaan en Hassan is in sy arm met ’n mes gesteek en twee van sy vingers is gebreek. Hassan het probeer om van sy aanvallers te vlug en het gehardloop tot by die Weltevrede winkelsentrum. Hiér is hy weer gekonfronteer, maar dié keer het hy homself verdedig en een van sy aanvallers is met ’n mes gesteek. Die beseerde man is na sy huis toe, en toe sy ma sy beserings sien, het sy die polisie in kennis gestel. Tronde Dreyer (22) is na die Paarl Hospitaal geneem, maar het later die dag tydens ’n noodoperasie gesterf. Hassan is in hegtenis geneem en van moord aangekla. Saterdagaand het inwoners van Carterville hul misnoeë getoon oor die dood van Dreyer en wat hulle noem, onwettige immigrante. Paaie is afgesper deur brandende bande en ’n woedende skare van ongeveer 100 mense het die polisie bestook met enige voorwerp wat voorgekom het. Die situasie is later onder beheer gebring. Niemand is in hegtenis geneem in verband met die voorval nie. * An angry mob in Carterville attacked police on Saturday evening, after the death of a local man at the hands of a Somalian immigrant.
More
News
|