EK is ’n inwoner van Noorder-Paarl wat onder in Langstraat bly. Ek het ’n klagte oor ’n saak wat al verskeie kere aangemeld is by die polisie en verkeerspolisie.
Van Vrydagmiddae ná skool word daar vreeslik lawaai met ongelisensieerde motorfietse onder by die rivier. Die klank is ondraaglik en dit weergalm baie hard tusen die bome en huise. Dan word daar die hele Saterdag gery en veral op Sondae wanneer mens ’n middagslapie wil vat.
Die motorfietsryers gebruik die teerpad om daar te kom en is nie gepla oor die padreëls nie. Nie een van daardie motorfietse het lisensies nie en is glad nie padwaardig nie.
Die probleem kom al vir jare aan en ons is moeg gepraat en geskel. Die verkeerspolisie het al verskeie kere gewaarsku, maar daar word niks verder gedoen nie.
Dit lyk al Saterdae soos ’n resiesbaan daar, daar is al ’n groot baan uitgery.
Ja, die seun met die swart motorfiets wat so oor die spoedhobbels ‘wheelie’ en vir mens tekens wys as ’n mens jou wil stop, en die ander een met die blou motorfiets wat so op en af ‘wheelie’ en tekere gaan in die teerpad, julle is ’n steurnis vir almal.
Dan die een met die rooi motorfiets wat ook deel is van daardie groepie. Jy vat ’n vet kans om jou meisie so op en af te vervoer op jou onpadwaardige motorfiets. Ons inwoners is nou al moeg en op geskel. Kan iemand asseblief iets doen?
Raad-op