DIE afgelope jaar het dikwels slegte dinge en onaangename ervarings oor ons pad gebring, maar daar was altyd die aangename wat die lewe lekker gemaak het. In die Paarl Post was daar dikwels beriggewing oor inisiatiewe van individue of instansies wat ’n positiewe bydrae gemaak het om ’n verskil te maak in die lewe van ander. Dankie aan die Paarl Post wat moeite doen om ook die goeie en mooie te publiseer en nie afstootlike taal- en artikels publiseer nie.
Ek wil graag erkenning gee aan instansies/besighede wat die afgelope jaar kwaliteit dienste aan ons gelewer het. In die Paarl: aan die bestuur en personeel van Medi Clinic vir elke keer wat ons die afgelope jaar op u “voorstoep” was en sonder uitsondering is ons altyd met vriendelike, professionele diens asook empatie en toewyding aan u taak bedien. Kaap Agri (Paarl) bestuur en personeel dieselfde geld vir u.
In my lekker dorp is daar baie en ek wil die volgende instansies en besighede se bestuur en personeel bedank vir dieselfde voortreflike diens met elke besoek. Dis altyd lekker om u te besoek. Wellington Leather Novelties, Well Clean, Wellington Paint and Hardware, Kaap Agri, Telkom, Write Shoppe, Standard – en Capitec banke, Drostdy Apteek, Shoprite en Mica. Selfs Medicross is aangenaam om te besoek. Wat ’n anomalie! Die Poskantoor en veral ’n kompliment vir hulle effektiewe spoedposdiens. Ek het Maandag halfvier ’n pakkie ingehandig - ’n 2kg vrugtekoek - en Dinsdag namiddag was dit in Phalaborwa in dieselfde toestand waarin dit versend is; dit teen ’n minimale bedrag. Phalaborwa grens aan die Kruger Wildtuin, dis vêr.
Ons plaaslike munisipale kantore het ’n besondere vrolike dame by die skakelbord en lewer aan my altyd puik diens. Ek wag nog net vir terugvoering, dis nie die administratiewe personeel se skuld nie, op twee keer se klagtes by die parke-afdeling vir die sinnelose besproeiingstelsel op die middelmannetjie in Piet Retiefstraat waar ons kosbare water bo-oor die plante spuit en die teer en motors benat i.p.v. die plante.
Net een klagte; ons dorp begin bars uit sy nate en die landelike gevoel begin verdwyn en ander probleme verskyn.
Hester de Kock