Paarl Media bewillig weer fondse vir studente
2009-12-17
DIE Paarl Media Beursfonds het in 2008 aan sewe studente die geleentheid gegee om hul studies aan verskeie erkende tersiêre instellings in die Wes-Kaap aan te pak. Nadat Paarl Media met trots die resultate met ’n slaagsyfer van 100% ontvang het, is daar in 2008 ’n tweede groep van nege studente vir 2009 aangewys. Gedurende November is tien nuwe beurshouers vir 2010 van verskeie skole in die Wes-Kaap aangekondig. Volgens Lambert Retief, Trustee en nie-uitvoerende voorsitter van die Paarl Media Groep, is Paarl Media in die posisie om ’n beter toekoms aan ’n handjievol jong mense te bied. Dit is die doelstelling van elke student om hul kursus te slaag om sodoende weer in aanmerking geneem te word vir ’n beurs in die daaropvolgende jaar. Retief het met trots genoem dat Paarl Media se doelstelling was om 20 studente teen 2010 te befonds en huidiglik word daar reeds 26 beurshouers befonds. Die vereistes om in aanmerking te kom vir ’n beurs, is die individu se akademiese prestasie, betrokkenheid by die gemeenskap, prestasie in kultuur en sport, en die afhanklikheid van finansiële ondersteuning vir voltydse studies. Die nuwe beurshouers is baie opgewonde oor hul voornemende studies, wat oor ’n wye veld van onderwys tot medies strek. In antwoord op die vraag, “Wat is sukses?”, was almal dit eens dat sukses die bereiking van hul persoonlike doelwitte beteken en nie besittings nie. Een van die voornemende studente het selfs verwys na Martin Luther King se wyse woorde, “Intelligence plus character is the true key to success”.
More
News
|