Polisie registreer nie verkragtings
2009-12-17
Lise Beyers
PAARL Polisie is weer eens onder ’n wolk van bedenking, met nuwe inligting wat aan die lig kom oor hoe daar met misdaadstatistieke gekonkel word. Volgens ’n Sondagkoerant is vyf laerskoolkinders van Paarl-Suid vroeër vanjaar na ’n man se woning gelok waar hulle verkrag is. Toe hulle skoolhoof onraad gemerk het, is die kinders hospitaal toe geneem vir mediese ondersoeke. Hier is dit bevestig dat hulle wel verkrag is. FMaar ten spyte van mediese bewyse, wou die Paarl Polisie nie hierdie sake as verkragtings registreer nie. ’n Ondersoek deur die Onafhanklike Klagte Direktoraat (OKD) is tans aan die gang ná beweringe dat die Paarl Polisie oor ’n tydperk van meer as twee jaar met misdaadstatistieke gekonkel het, om sodoende die ware misdaadsyfer in dié gebied laer te laat lyk. Ander stasies in die gebied wat ook ondersoek word, is Paarl-Oos, Mbekweni en Wellington. Volgens beweringe is ernstige misdade soos verkragting, bedrog en huisbraak as minder ernstige misdade aangeteken. Sodoende word hierdie misdade nie ingesluit by die jaarlikse misdaadstatistieke nie. Die OKD ondersoek onder andere meer as 50 verkragtingsake, onder wie van die slagoffers so jonk as vier jaar oud was, wat nie as verkragtingsake gehanteer is nie. Tans is die OKD besig om meer as 1000 dossiere van polisiestasies dwarsoor die Wes-Kaap te fynkam om onreëlmatighede te ontbloot. Daar word verwag dat voormalige senior personeellede van Paarl Polisie met die finale verslag van die OKD, vervolging in die oë kan staar.
More
News
|