Skoliere steur hul nie aan ressesie
2009-12-17
Colin Hendricks
ALLES hang af van geld en die ouers se beskikbaarheid om die somervakansie vir Paarlse kinders lekker te maak. Maar aan die resessie steur die kinders hulle maar min. Deidre Goetham, ’n Paarlse ouer, sê die resessie het talle ouers se sak ’n knou toegedien. Dit gaan dit dalk moeiliker maak vir die jeug om die vakansie ten volle te geniet of daardie nuwe skootrekenaar te kry waarvoor hulle vanjaar harde bene in die skoolbanke gekou het, sê sy. Maar, haar seun Alex Goetham (7) is min gepla oor die resessie. Hy soek nog steeds ’n splinternuwe Xbox vir Kersfees, maar tot dan sal hy tevrede wees om rugby met sy vriende in die park te speel. “Maar die parke in die Paarl is nie veilig nie. Daar behoort kontrole oor die parke te wees,” meen Deidre. “Ek voel daar moet ook baie meer aktiwiteite vir kinders te wees, sodat kinders hulself die vakansie kan besig hou,” sê sy. Ander gaan die vakansie by die huis ten volle geniet. Sonja van Rooyen, ma van Leonie en Landie sê haar dogters het goed geslaag. “Hulle maak my hart baie bly,” sê sy. Leonie (9) en Landi (7), van Gimnasium Laerskool, sien uit na die aktiwiteite wat hul ma vir die vakansie beplan. “Ons gaan inkopies doen, koekies by die huis bak en krale ryg,” sê Leonie. Vir haar goeie skooluitslae hoop Leoni haar ma sal vir haar nuwe rolskaatsskoene en ’n pop vir Kersfees koop. Amalu Mtyhuda (12) van William Lloyd Primêr wil die vakansie iets aan sy gesin teruggee. Hy sê die vakansie gaan hy sy ouma help skottelgoed was en sy pa met die hoenders help. Vir sy hulp verwag hy nie baie nie: “Ek wil net klere hê vir Kersfees.” Al is dié Desembervakansie korter as gewoonlik gaan Leandi Fredericks (12), van Wellington Sekondêr, die vakansie goed benut. “Ek gaan biblioteek toe en baie boeke lees. Ek hou van tragedie, romanse en avontuurstories.” Sy sien egter uit na die langer skoolvakansie in Junie aanstaande jaar. “Dan kan ek meer boeke lees,” sê sy. Azariah Green (15) van New Orleans Sekondêr wil hê wat baie ander leerders seker vir Kersfees wil hê: “’n selfoon.” Hy voel hy verdien dit na die harde werk in die skool. “Ek is baie hartseer oor die kort vakansie, maar ek sien uit na volgende jaar se Junie-vakansie,” sê hy.
More
News
|