Boxing Day fietsry is oudste ter wêreld
2009-12-17
SATERDAG 26 Desember vind die gewilde Paarl Boxing Day fietsry-byeenkoms vir die 112de agtereenvolgende jaar plaas by die Faurestraat-stadion. Dit maak dit die oudste aaneenlopende baanfietsrybyeenkoms in die wêreld, sedert sy ontstaan in 1897. Oor die jare heen het die goeie kompetisie en die prestige van die byeenkoms die beste baanfietsryers van Suid-Afrika na die Paarl gelok. Vanjaar gaan geen uitsondering wees nie, met toeskouers wat trakteer sal word met topklas fietsry. Die hoofwedren tydens die byeenkoms, die 25 myl, het in die verlede al van baie fietsryers legendes gemaak. Bennie Gelderblom, Jan Laubser, die Binneman Broers, Les Haupt, die Peacock broers, Alan van Heerden, Johnny Koen, Willie Dowd, Willie Engelbrecht en meer onlangs Garth Thomas en Nolan Hoffman, sal altyd onthou word in fietsry omdat hulle op hul dag die Paarl Boxing Day 25 Myl verower het. Johnny Koen, ’n voormalige wenner en bekende TV aanbieder, gaan tydens vanjaar se byeenkoms die kommentaar behartig en die byeenkoms gaan ook TV dekking geniet en sal uitgesaai word op Pedal Talk. Wedrenne vir alle kategorie gaan aangebied word, vanaf o.10 en o.12 tot die veterane. Die wedrenne vir die Elite Kategorie gaan die 400m, 1500m, uitvalwedren, puntewedren, die 1 myl-uitnodiging en die 25 myl wees. Plaaslike helde Garth Thomas en Nolan Hoffman gaan beslis weer die skare se gunsteling wees in die 25 myl, maar Reniell Mathyssen, die Gautenger Martin van Wyk en die KZN ryer Dean Edwards, gaan sorg vir vuurwerke tydens die hoofwedren. In die verlede was daar ook gesien dat guns-telinge mekaar sit en dophou en dat ’n onderskatte of onbekende ryer uiteindelik met die louere wegstap. Die 1 myl uitnodiging gaan ook sorg vir opwinding omdat net die vinnigste 18 ryers uitgenooi word. Die spoedvraat Edwards sal hier as gunsteling beskou word, maar Mathyssen, Evan Carstens en Hoffman gaan dit nie vir hom maklik maak nie. Ryers van Port Elizabeth, Oudtshoorn, Gauteng en KZN het ingeskryf en opwindende fietsry gaan in al die kategorie gesien word. Prysgeld beloop R16 000. Daar is natuurlik ook die Minnaar en AW Basson Trofee van egte silver, waarvoor die ryers meeding. Die byeenkoms sal om 14:00 begin, met die hekke wat open om 12:00. Sowat 5000 toeskouers word verwag. Toegang beloop R20 vir volwassenes en R10 vir kinders onder 16.
More
News
|