DANKIE vir die berig (“Sprokiestroue vir rivierslapers”, 10 Desember) oor die troue van David en Lucy Kruger, wat lank reeds by die projek vir haweloses by die Toringkerk inskakel.
Hoewel die Toringkerk ’n ruimte bied waarin meer as 90 hawelose mense hul geestelike behoeftes kan uitleef en aktief by eredienste en ’n Bybelstudie-kleingroep kan inskakel, het die projek juis gegroei omdat ander rolspelers betrokke geraak het.
Veral Jacques Heyns (wat by Metro Evangeliese Sorg gaan kers opsteek het), Idalett de la Bat (maatskaplike werker) en Monte Christo Bediening het ’n groot verskil gemaak deur die optelprojek, asook ’n dissipelskapkursus, wat grootliks deur hulle bedryf word.
Sonder Mika van Schalkwyk van die liefdadigheidsorganisasie Karma sou die troue ook nooit die sprokie kon wees wat dit was nie.
Nie alleen het sy die klere, haarsorg, grimering, motors, tafels en stoele vir die onthaal en vele ander dinge vir die bruid, bruidegom en hul gevolg van vyf gereël nie, maar sy het hulle ook van die een punt na die ander vervoer, sodat hulle betyds en bekoorlik by die kerk en onthaal kon opdaag.
My hartlike dank dus aan al die rolspelers wat elk op sy of haar eie manier, ’n groot verskil gemaak het.
Karin Combrinck