EK het die afgelope tyd weer die ervaring gehad dat my bure hul hond weke lank alleen by die huis los terwyl hulle met vakansie gaan.
Daar het wel (sover ek kon agterkom) iemand gekom om die hond kos te gee. Dit is dus nie ’n geval van dieremishandeling nie - eerder ’n geval van bure-mishandeling. Want sien, daardie hond het wel kos en water, maar hy is alleen vir die res van die dag - minstens 23 en ’n half lang ure. En hy’s verveeld.
Wat kan ’n verveelde, eensame hond doen om sy dae korter te maak? (Behalwe natuurlik gate grawe!) Dis reg - hy kan blaf. En dis wat hy doen. Hy BLAF.
Hy blaf dag en nag. Hy blaf die oujaar uit en die nuwe jaar in.
Teen 00:30 as ek met my kussing op my kop en watte in my ore aan die slaap raak, is hy nog fluks aan die gang. As ek soggens 05:00 moeg wakker word, is hy nog steeds/alweer fluks besig.
Af en toe blaf hy homself so moeg dat hy ’n rukkie móét rus - ’n hele twee kosbare ure lank is dit stil in die straat. En dan begin dit weer met hernieude entoesiasme...
Hondeliefhebbers - dink asseblief aan jul arme honde as jul met vakansie gaan! En groot asseblief ook aan julle bure!Gefrustreerde hondeliefhebber