DIE Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl spog met ’n splinternuwe stoelhyser.
Mense met gestremdhede en bejaardes wat nie die museum se steil trappe voorheen kon gebruik nie, kan nou gebruik maak van dié elektroniese stoelhyser om toegang tot die boonste verdieping te kry. Op die boonste verdieping is ’n rolstoel beskikbaar.
Die hyser, wat sowat R40 000 gekos het, is deur die departement van kuns en kultuur bewillig.
Volgens Jack Louw, direkteur van die Taalmuseum, is daar reeds in 2002 aansoek gedoen vir ’n hyser.
“Ons het besluit om ’n stoelhyser te installeer omdat die gebou, wat van 1860 dateer, se struktuur dit onmoontlik maak om ’n gewone hyser te installeer.
“Die huis is met songedroogte stene gebou wat nie stewig genoeg is vir ’n swaar hyser nie. Dit sou ook beteken dat van die dakbalke deurgesaag moes word, wat strukturele skade sou veroorsaak.”
Volgens Louw het die stoelhyser egter beperkings.
“Die skag van die trappe is baie nou en iemand wat byvoorbeeld nie sy of haar knieë kan buig nie, sal nie die stoelhyser kan gebruik nie.”
Levona Solomons, die uitvoerende hoof van Arise and Shine, ’n inisiatief wat bystand bied aan mense met gestremdhede in die Paarl en omliggende areas, het die museum besoek om die stoelhyser uit te toets.
“Dit was wonderlik om die uitstalling op die boonste verdieping te kon sien. Voorheen kon ek slegs die onderste deel van die museum besoek.”
Solomons het gesê hulle sal ook graag die museum se personeel oplei om besoekers met gestremdhede te kan bystaan.
Die museum se toiletgeriewe is ook rolstoelvriendelik en ’n aansoek is reeds by die munisipaliteit ingedien vir ’n parkeerplek vir rolstoelgebruikers.
Die Taalmonument op Paarlberg is ook toeganklik vir mense met gestremdhede.
Vir meer inligting, kontak gerus die Taalmuseum by 021-872-3441.