HJS matrieks skitter
2010-01-14
DIE Hoër Jongenskool Paarl is gelys onder die tien top skole in die Wes-Kaap met ’n slaagsyfer van 100% en ’n baie hoë proporsie universiteitstoelatings. Daar is 17 leerlinge met A-gemiddeldes en 36 met B-gemiddeldes onder die 145 matrieks. Volgens skoolhoof Derek Swart is HJS ’n veeleisende omgewing “waar almal terdeë daarvan bewus is dat op beide akademiese en buitemuurse gebied, hulle elke dag daarna moet streef om die grense te verskuif. “Ons verwag dat, veral die senior seuns, die verantwoordelikheid sal aanleer om met hul onderwysers te skakel as hul probleme ondervind. Vir diesulkes word dan eksta klasse deur die personeel aangebied. “Elke leerder ontvang aan die begin van die jaar ’n HJS-huiswerkboek en daar word baie klem op daaglikse bemeestering gelê - die vaslegging van dít wat die onderwyser daardie dag met hom in die klas behandel het. “Vir die juniors word sekere personeel getaak om ekstra klasse aan te bied, veral in Wiskunde. Gedurende eksamentye, waar die juniors se roosters nie so vol is soos dié van die seniors nie, bied ons tutoriale aan in die eksamenklasse, met baie goeie gevolge. “Veral die graad 9 kurrikulumvakke soos byvoorbeeld Rekeningkunde word aangepas sodat dit nommerpas is vir Boishaai. So verseker ons dat die seuns ’n ordentlike basis het as hul na graad 10 beweeg in hierdie vakke. “Aan die einde van graad 9 lê ons leerders die GTA’s af, maar omdat ons bewus is daarvan dat hierdie assesseringswyse maar veel te wense oorlaat, skryf ons dan ook behoorlike HJS-eksamens in vakke soos Wiskunde, Rekeningkunde, die Wetenskappe, Ingenieursgrafika en Ontwerp en Rekenaartoepassingstegnologie. “Ouers kry dan ’n addisionele rapport waarop die punte van dié eksamens verskyn, sowel as ’n aanbeveling oor vakkeuse. “Verder het ons ’n interne groep bestaande uit die senior bestuurspan, graadhoofde en ’n berader wat op ’n gereelde basis vergader en leerders se prestasie (of tekort daaraan) bespreek en hulp verleen waar ons sien iemand sukkel. Hierdie groep voer ook onderhoude met veral die matrieks wat in die Junie-eksamen swak vaar saam met hul ouers Hierdie is maar ’n paar meganismes wat ons in plek het. “’n Mens moet ook ’n lansie breek vir die HJS-personeel, wat geen steen onaangeroer laat nie om te sorg dat die talentvolle leerders optimum presteer op akademiese en buitemuurse gebied.”
More
News
|