HMS se Mené verras met 15de plek
2010-01-14
Lise Beyers
“NOOIT in my wildste drome het ek gedink dat ek so ’n prestasie sou behaal nie.” So sê plaaslike matrikulant Mené van der Westhuizen wat onder die top 20 leerders van die Wes-Kaap is. Sy was skoon spraakloos toe sy verlede Woensdag ’n oproep ontvang het om vir haar in kennis te stel dat sy die volgende dag met Premier Helen Zille moet gaan bladskud by Leeuwenhof. Mené, ’n derdegenerasie-leerder aan Hoër Meisieskool Paarl, het onderskeidings in al haar vakke en het ’n slaagpersentasie van 91,5% behaal. Sy is maar beskeie oor haar prestasie, maar sy skryf dit toe aan ’n gedissiplineerde skedule en die feit dat sy reeds van jongs af besef het dat skoolwerk belangrik is. “Om in so ’n wonderlike skool soos Girls’ High te kon wees, speel ook ’n groot rol. Dit is baie spesiaal om deel te wees van dié skool, en die onderwysers staan ons deurgans by en inspireer vir ons om nog beter te vaar.” Mené se hart het tot verlede jaar nog na die kunste getrek. Sy het beslis ’n talent hiervoor, maar haar kop het nou begin draai na mediese navorsing. Sy skop dus die jaar af met studies vir ’n B.Sc. graad aan Maties. Haar pa, Pieter, is ’n landboubestuurder op ’n groot plaas in Noorder-Paarl. Vir haar trotse ma, Marésa, is haar dogter se prestasie nie so ’n groot verrassing nie. “Sy het nog altyd goed gevaar.”
More
News
|