Wenners van blokkompetisie aangewys
2010-01-14
DIE prysuitdeling van die Bergrivier Tafeldruif Produsentevereniging (BTPV) se jaarlikse wingerdblokkompetisie het op 19 Desember plaasgevind. Die Bergrivierstreek, wat strek vanaf Paarl tot Piketberg, is vir die beoordeling in twee streke verdeel. Tien blokke in totaal is beoordeel. Die eerste streek (Piketberg, Porterville en Halfmanshof) is op 1 en 2 Desember beoordeel en die tweede streek (Paarl, Wellington en Riebeek) op 10 Desember. Vanjaar se kompetisie was so straf dat die sewe beoordelaars dit onmoontlik gevind het om slegs een wenner aan te kondig. Daar is dus vanjaar twee eerste plekke en ’n derde plek aangewys. Die blokbesigtiging waartydens die drie wenblokke besoek en bespreek is, is deur ’n menigte produsente bygewoon. Die twee eersteplek-wenners was Henry Horne van Kromvlei (Kosie van Niekerk Boerdery) en Rudolf Grobler van Broodkraal Landgoed (JF le Roux Groep) met onderskeidelik ’n blok Crimson en ’n blok Thompson. Die derde plek is gewen deur Koot Nel van Morester Boerdery met ’n blok Flame. Die twee eersteprys-wenners het elk met produkte en prysgeld ter waarde van R25 000 huis toe gegaan en die derde pryswenner ’n totaal van R10 000. ’n Addisionele prys van R2 500 geborg deur die BTPV is ook toegeken aan Warren Bam van Lushof Fruit wat ’n organiese blok Regal ingeskryf het. Die beoordelaars was besonder beïndruk met die wyse waarop die organiese druiwe verbou word. NexusAG het die prysuitdeling geborg en Bayer CropScience het produkte ter waarde van R30 000 sowel as ’n kontantbedrag van R2 500 geborg. Ander borge was PPECB, Kaap Agri Pakmateriaal Paarl, The Grape Company, BASF, Villacrop, Knittex, Neutrog, Agri Sense, Cyflo Marketing, Mondi, Exsa en Vinguard. Die drie wenners ding nou verder mee om die kwaliteitprys van R4 000 soos geborg deur PPECB wat binnekort aangekondig word. Die beoordelaars was Jan Avenant (LNR, Infruitec- Nietvoorbij), Eunice Avenant (Elsenburg Landbou Kollege), Jacobus Viljoen (Sapex), Petrie de Kock (Bayer), Pieter Raath (Universiteit van Stellenbosch), Phillis Burger (LNR, Infruitec-Nietvoorbij) en Pieter le Roux (Villacrop). Die doel van die kompetisie is eerstens om produsente die geleentheid te gee om waardevolle inligting uit te ruil en tweedens om erkenning te gee aan individue wat hulle goed van hulle taak gekwyt het.
More
News
|