Koning van die branders
2010-01-14
DIE jaarlikse Red Square Trans Agulhas, wat strek oor 5 dae en 780km van Plettenbergbaai na die Strand, het weer 28 Desember weggetrek. Tydens vanjaar se Trans Agulhas, wat deur meeste van die ervare spanne bestempel word as een van die taaiste kompetisies nog, het die Wellingtonse span van Bata Industrials, bestaande uit Steyn Basson (drywer) en Jan Kriel (kopman), gemengde welslae in die Blueprint-klas ervaar. Op dag een het ’n gebreekte vin op die ratkasdie stuur van die boot baie bemoeilik, met die gevolg dat die land se voorste branderspan agter die eerste drie bote geëindig het. Vervolgens was dié span konstant onder druk om voor die voorlopers te eindig om waardevolle tyd in te haal. In ’n geveg om die derde plek tydens die laaste dag, het Bata Industrials tydens die laaste strandstop ’n versnellerkabel gebreek. Met 20km oor, moes dié span onttrek en het hulle in ’n algehele vierde plek geëindig. Bata Industrials het egter hul eer behou deur te bevestig dat hulle steeds die land se beste span in die branders is. Met ’n vyf uit vyf oorwinning oor die branders, was dit die eerste keer in die geskiedenis van dié wedvaart dat een span elke branderkompetisie wen. * Die span van Imperial Cargo (Paarl), bestaande uit Wimpie Ackermann (drywer) en Whitey Louw (kopman), het geseëvier in die Blueprint klas P750. Beide Ackermann en Louw is van Bredasdorp.
More
News
|