Peoples se Adams lei met voorbeeld
2010-01-14
YOUNG PEOPLES se eerste krieketspan het Saterdag die nuwe jaar goed afgeskop met ’n skitterende oorwinning oor Hermanus. Peoples het eerste gekolf en 205/7 behaal in 45 boulbeurte. Die kaptein, Brendon Adams (101, 12x4 en 1x6), het die kolf-aanslag van die Tiere gelei. Sy 100-tal is van slegs 114 balle behaal. Adams is goed bygestaan deur Wade October (39, 4x4) en Dominic Daniels (25, 2x4). Die temperatuur het by die 40 grade gedraai, maar dit het die Tiere nie van stryk gebring nie. Goeie boul- en veldwerk het Peoples toegelaat om hul besoekers uit te haal vir 174 lopies. Met ’n ‘man-van-die-wedstryd’ vertoning was dit weer eens Adams (2/33) se puik boulwerk wat die manne van Hermanus gekou het. Hubert Ontong (2/37) het ook goed geboul, maar die man wat die wedstryd op sy kop gedraai het, was Leigh-John Julies met 4/16 in 7 boulbeurte. Julies het die sterk kolflys van Hermanus aan flarde geskeur met sy draaiballe. Vir Hermanus kon slegs Ryno Arendse (62) lopies behaal. Peoples se tweede span het ook sy wegwedstryd teen Brackenfell met 5 paaltjies gewen. Brackenfell kon slegs 185 lopies aanteken, danksy fantastiese boulwerk deur Mark Borchards (4/18). Peoples het gevolglik die wen-teiken (191/5) sonder moeite behaal en dit was weer Borchards (32*, 4x4 en 1x6) wat goed gekolf het. Hy was goed bygestaan deur Brendon Gabriels (38*, 5x4). Eerskomende Saterdag speel Peoples I tuis teen Brackenfell, die tweede span speel weg teen Paarl II op die Parys-veld en die derde span speel tuis teen Oostelikes op die Daljosafat-sportvelde.
More
News
|