SSATERDAGOGGEND 26 Desember om 25 minute voor 2 lui my selfoon in Hermanus.
Dit was die sekuriteitsfirma wat my in kennis stel dat die huisalarm op my plaas buite Paarl afgegaan het en dat gewapende reaksie reeds op pad is na die perseel. Sewe minute later stel hulle my in kennis dat daar wel ’n inbraak by my huis was, dat hulle beampte op die perseel is en dat die inbrekers volgens alle aanduiding in oorhaas gevlug het.
Die Sektor 6 polisiebeamptes het kort daarna opgedaag en my huis beveilig - tesame met ’n honde-eenheid wat die spoor van die booswigte tot by die grens van buurplase Joubertsdal en Sonneskyn gevolg het.
Later is ek deur die polisie in kennis gestel dat daar vroeër ’n ander inbraak gepleeg is in die rigting van Nieuwedrift en dat die hoof van Sektor 6 polisiëring, insp Cupido, “baie ontsteld daaroor gaan wees”.
Deur die toewyding van die beamptes van ADT en Sektor 6 Polisiëring is my inbraakskade aansienlik beperk en is daar ook ’n duidelike sein uitgestuur aan misdadigers dat hulle lig sal moet loop, want wetstoepassing is skerp.
Baie dankie aan al die toegewyde persone wat hierdie soort gehalte diens aan ons gemeenskap lewer.
Philip Spies,
Nantes-plaas