EK lees met skok die brief oor ’n hondjie wat geskiet is ter nagtelike ure en terselfdertyd lees ek in ’n ander brief oor die selfsugtige optrede van honde-eienaars wat vakansie gaan hou en hulle diere tuis laat, tot die buurman se frustrasie.
Glo my, ek weet hoe dié partye elkeen moet voel, maar ek is geneig om die gefrustreerde buurman eerder gelyk te gee in die twee gevalle! Die aanhoudende geblaf en getjank van die bure se hond(e) het my ook al tot raserny begin dryf en “moord”-gedagtes laat koester.
Eienaars is verbaas dat hulle diere dwarsdeur die nag kan tjank as hulle nie tuis is nie, want “Woefie doen dit nooit as ons by die huis is nie!”
Wat my moordgedagtes verder aanblaas, is die honde-eienaars wat gemaksugtig raak en saans ná 8:00 of soggens vóór 7:00 die hekke oopmaak sodat Wagter sy ding kan gaan doen in die buurt - op my varsgesnyde grasperk.
Ja, toemaar buurman, ek sal seker nog die mure van Jerigo om my erf moet aanbring om die euwel ook hok te slaan, maar tot hede het ek die tronk-gevoel probeer vermy!
Tydig en ontydig neem die viervoetige spesie net eenvoudig beheer van die buurt oor en blaf hulle dat hoor en sien vergaan - veral as dit dromdag is.
Soms kan ek in my eie huis nie ’n telefoongesprek voer of ’n storie op die TV volg nie, so blaf my buurman se honde!
Om bloot jou hond in die werf te hou, buurman, is nie genoeg nie... beheer sy gewoontes en leer hom om vir die regte redes aggressief te wees en sy stem te verhef.
Oor die aantal diere per erf wil ek my nie eens uitspreek nie, want die plaaslike owerheid het nog nooit toegetree tot die stryd om getalle te help beperk nie.
Troeteldiere behoort vir die eienaar en die bure aanvaarbaar te wees, maar as jy die steurnis durf aanspreek, ontstaan daar gewoonlik ’n kwaaivriendskap tussen bure wat die predikant voor Nagmaal moet kom ontlont.
Soms wil ek ook graag weer vir my ’n hond aanskaf, maar die selfsugtige bure se optrede teenoor hulle troeteldiere, weerhou my daarvan!
Self ’n dierevriend