Nuwe kombuis vir kursus
2010-01-21
Johan Nel
DIE Wamakersvallei-opleidingsentrum op Wellington gaan vanjaar ’n splinternuwe bykomende kursus in kookkuns aanbied. Die kursus is aanvullend tot die gewilde kursusse wat die sentrum reeds die afgelope tien jaar in tuisversorging en in kleuter- en babasorg aanbied. Volgens suster Iréne de Waal, die hoof van die sentrum, het hulle daarin geslaag om genoeg steun van borge te kry om vanjaar ’n behoorlik toegeruste kombuis in die sentrum in te rig. Dit sal bestaan uit tien kombuis-eenhede waar tien studente op ’n slag opgelei kan word. Sy sê die kursus word spesiaal ontwikkel om die lewe vir werkende huisvrouens makliker te help maak. Hulle kan nou hul huishulpe na die sentrum stuur om behoorlik opgelei te word in die fyner kunsies van voedselbereiding. Die toelatingsvereiste is laerskoolopleiding. Wamakersvallei-opleidingsentrum is reeds baie bekend as ’n instelling wat mense wat sukkel om werk te kry, bemagtig om ’n vaste betrekking te bekom. Feitlik elkeen van die bykans 5000 persone wat die afgelope tien jaar deur die sentrum opgelei is, staan vandag in ’n vaste betrekking. “Aanvanklik beoog ons om vyftig studente per week in vyf groepe van tien op ’n slag in ons nuwe kookkuns-kursus op te lei. “Die hele kursus sal twee maande duur en elke student in so ’n groep van tien sal eenkeer per week vir ’n dag lank opleiding ontvang. “Die meeste studente wat hierdie kursus gaan volg, sal reeds as huishulpe in betrekkings staan. Hulle sal oor ’n periode van twee maande een keer per week vir ’n dag lank na die sentrum kom vir opleiding.” Suster De Waal sê die leerplan vir die kursus word op die oomblik deur ’n span kenners in voedselbereiding opgestel terwyl skrynwerkers tans besig is om die nuwe kombuis in die sentrum in te rig. Daar word beplan om teen Maart met die nuwe kursus in kookkuns te begin. Die opleidingsentrum se gewilde kursusse in tuisversorging en baba- en kleutersorg het reeds verlede Maandag begin. Bykans 70 studente het vir hierdie kursusse ingeskryf. Die volgende inname vir hierdie kursusse is 19 April en dan sal voorkeur gegee word aan studente wat die kursusse in Engels wil volg. Vir meer besonderhede, skakel 021-873-5942.
More
News
|