Gesteelde voël kom huis toe ná berig
2010-01-21
Lise Beyers
TIEN dae het soos tien jaar gevoel vir ’n Paarlse vrou, nadat haar kokketiel vanaf haar agterstoep gesteel is. Op 4 Januarie is Linette Henning deur haar bure in Dorpstraat in kennis gestel dat hulle gesien het hoe ’n man oor haar tuinmuur klim en die voël, hok en al, in ’n swartsak sit en die hasepad kies. Ten tyde van die voorval was Henning tuis, maar teen die tyd wat sy in die straat gekom het, was daar geen teken van die voortvlugtige nie. “Ek het die Maandag ná die voorval dadelik Paarl Post gekontak om ’n advertensie te plaas oor Kuifie. En die koerant was skaars Donderdag op straat, toe lui my foon. “Dit was ’n man uit Groenheuwel wat vertel het dat hy die dag van Kuifie se verdwyning in ’n taxi gery het, toe ’n man inklim met die hok en kokketiel. “Die barmhartige Samaritaan het vir die man oorreed om die kokketiel aan hom te verkoop vir R100.” En so is Kuifie tuisgemaak in Groenheuwel, en hier het hy ook diep in die harte van sy ‘nuwe eienaars’ gekruip. Maar toe hulle in die Paarl Post lees van Henning se soektog na haar kokketiel, het hulle besef dat die regte ding om te doen is om haar te kontak. En so is Kuifie en ’n baie verligte Henning herenig. “Vreeslik baie dankie aan die Paarl Post vir puik diens en spoedige plasing van ons beriggie. “Baie dankie aan Cecil en sy vrou wat die kokketiel by die voëldief gekoop het en so mooi versorg het. “Baie dankie vir julle eerlikheid - dit is wonderlik om te weet dat daar nog sulke goeie, eerbare mense soos julle is. “Baie dankie buurvrou - sonder jou sou ons nie geweet het waar om te begin soek nie!”
More
News
|