Man sterf in wyntenk
2010-01-21
Lise Beyers
’n JONG man het eergister in vreemde omstandighede in ’n wyntenk in Suider-Paarl gesterf. Die voorval het by die Fraterstraat Kelder in De Zoete Inval plaasgevind. Kollegas het vir Deswille van Rooy (19) begin soek nadat ’n kollega hom as vermis aangemeld het. Toe hulle hom nie kon vind nie, het hulle wyntenke in ’n stoor begin leegpomp waar hy laas gesien is. Om 13:30 is sy liggaam en veiligheidshelm in een van die gistingstenke gevind. Van Rooy, van Wupperthal, se liggaam is met die hulp van lede van die brandweer en Metro-nooddienste uitgehaal. Dit bly ’n raaisel hoe Deswille bo by die mangat na die wyntenk beland het, want hy het by ’n heel ander afdeling van die kelder gewerk. Bo die mangat is ’n veiligheidsrooster en dié is weggeskuif. Dit is moontlik dat Deswille oorval is deur koolsuurgas voordat hy kop eerste by die tenk ingeval het. Hoë vlakke van koolsuurgas vorm tydens die gistingsproses van wyn. ’n Direksielid van Fraterstraat Wynkelder, Derek Clift, het gesê dat die direksie en bestuur van die onderneming die voorval diep betreur. “Ons het dadelik ’n dringende ondersoek met die hulp van kenners geloods na die voorval. Stappe wat kan voortspruit uit hul aanbevelings sal gedoen word om enige soortgelyke of ander ongevalle te voorkom.” Dit is die tweede jaar dat Van Rooy tydens parstyd by dié kelder gewerk het. Sy pa het ook hier gewerk, maar is vyf maande gelede oorlede. Toe die nuus van sy dood versprei het, het familielede na die toneel gestroom om antwoorde te bekom oor Van Rooy se dood. Van Rooy se oom, Christopher Zas, het gesê dat dit ’n tragiese verloop van sake is, so kort na sy pa se dood. “Deswille het die boerdery oorgeneem by sy pa en het fluks gevorder. Hy het net in die Paarl kom werk vir drie maande om ’n bietjie ekstra geld vir sy ma te verdien. “Maar ons aanvaar dat dit ’n fratsongeluk was.” * A cellar worker drowned in a wine tank at Frater Street Cellar in Paarl South.
More
News
|