Brakke stuit Tiere
2010-01-21
NADAT Young Peoples twee naweke gelede onstuitbaar gelyk het, toe hulle die manne van Hermanus ’n krieketles in laasgenoemde se eie agterplaas geleer het, is daar vir die eens magtige Tiere die afgelope naweek ’n les van hul eie geleer. Trouens het aldrie spanne van Peoples nederlae gely, met die eerste span wat op die Daljosafat-sportvelde deur Brackenfell verslaan is. Peoples het met ’n sielkundige agterstand begin, toe hulle voor die wedstryd die loot verloor het en die Brakke besluit het om eerste te kolf. Die Tiere het egter vol selfvertroue begin en uitstekende veldwerk het die Brakke tot 186/5 beperk. Lorenzo Jacobs (2/44) was met goeie boulwerk Peoples se beste bouler. Dit was egter die oud-leerder van Hoër Landbouskool Boland en uitblinker van die Cape Cobras, Stiaan van Zyl (regs), wat met 56 lopies (4x4) ’n stewige kolfvertoning vir die besoekers gelewer het. Peoples se kolwers het van meet af hul teenstanders se lopietotaal gejaag, met verlede week se speler van die wedstryd, Brendon Adams, weereens die voorste lopiemaker. Adams se 28 lopies was egter nie dié keer genoeg om sy span te red nie en Peoples se paaltjies het eenvoudig te maklik gekantel. Die tuisspan was uiteindelik uitgeboul vir 137 lopies. Peoples se tweede span het self lelik vasgeval toe hulle met 10 paaltjies verloor het teen Paarl Krieketklub se tweedes. Terwyl Peoples uitgehaal is vir ’n skamele 78 lopies, het Paarl se manne die wentelling reeds in die twaalfde boulbeurt behaal. Om Peoples se swart naweek te onderstreep, het die derde span ook hul moses teëgekom, teen Oostelikes op die Dal. In hul teiken om 300 lopies te jaag ná Oostelikes se goeie kolfvertoning, moes hulle met ’n totaal van 86 lopies stert tussen die bene van die veld loop. Peoples se beste spelers was Andrew Victor (20, 3x4) en Cedric Williams (3/52 in 8bb). * Saterdag speel Peoples I weg teen Paarl-Oos en Sondag tuis teen Maties op Daljosafat. Peoples II speel Saterdag weg teen Van der Stel II op Stellenbosch. Peoples III speel Saterdag tuis teen Brackenfell III.
More
News
|