EK het op ’n onlangse Sondagaand (4 Januarie) kort voor middernag die twyfelagtige voorreg gehad om die ongevalle-afdeling van Paarl Hospitaal te besoek.
Dit was ’n onaangename ondervinding om die minste te sê.
Afgesien van die feit dat die plek oorvol was (vier mense het op die vloer gelê) was dit vuil.
Ek het flou geval van pyn en toe ek bykom, lê ek op die vloer tussen die maaiers wat uit die vullisdrom gepeul het.
Later is ek toilet toe, wat besmeer was met ontlasting en die vloer was nat.
Toe ’n vrou instap en eenvoudig hurk en op die vloer urineer besef ek dat die nat vloer nie weens water is nie, maar urine.
Hoekom is daar nie skoonmakers wat oor naweke die ongevalle-afdeling (veral die toilette) skoon hou nie?
Hoekom is daar nie genoeg dokters nie? Ek is eers die oggend 7 vm gehelp en het eers die Maandagmiddag 4 nm daar uitgekom.
Die toestande is regtig kommerwekkend, onhigiënies en onmenslik.
Paarliet