PIEKNIEKLIEFHEBBERS kan hul mandjies begin pak vir die gewilde volmaanpieknieks by die Taalmonument op Paarlberg wat weer op Saterdag 30 Januarie afskop.
Dié aandpieknieks het in Desember meer as ’n duisend piekniekgangers gelok.
Volgens Isabeau Botha, kommunikasiebestuurder van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, is dié aandpieknieks goed ondersteun deur plaaslike inwoners sowel as oorsese besoekers.
“Oud en jonk geniet die pieknieks in die monument se tuine,” het Botha gesê. “Die uitsig is asemrowend gedurende die dag, sowel as in die aand wanneer al die ligte by die monument afgeskakel is.”
Sonsondergang en maanopkoms is rondom 20:00. Die monument sal tot om 22:00 oop wees. Toegang word beheer en veilige parkering is beskikbaar. Toegang is R12 (R5 vir studente en R2 vir kinders) en besoekers hoef nie vooraf te bespreek nie.
Geen honde of vure word toegelaat nie en dit is ’n goeie idee om ’n flitslig en warm klere saam te bring.
Besoekers mag hulle eie piekniekmandjies saambring of kan ’n mandjie by Volksmond Koffiewinkel bespreek (021-863-2800).
Vir algemene navrae, skakel 021-872-3441 of 076-017-6026. Die volgende volmaanpieknieks vind plaas op 27 Februarie en 27 Maart.
Die volgende sterrekykaande met teleskope vind plaas op 13 Februarie (die Magellaanse Wolkies) en 13 Maart (Saturnus).