Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Groot planne vir die Breyten

Groot planne vir die Breyten
 
2010-01-28

Johan Nel

’n BEKENDE Paarlse dramaskool het pas na Wellington oorgeskuif om deel van die Breytenbach-sentrum se aktiwiteite op die dorp te word.

Dit is slegs een van talle nuwe planne wat vanjaar ingespan gaan word om dié unieke plattelandse kultuursentrum nog stewiger op ’n wenpad te plaas.

Volgens Theo Kemp, bestuurder van Wellington se Breytenbach-sentrum, het die sentrum sedert 2007 ’n al groter rol in die lewens van die mense van Wellington en omstreke begin speel.

Die 50 uitsoekvertonings wat in 2009 by die Bôrdienghuis, die sentrum se teater-kafee aangebied is, het vermaak aan meer as 3 000 mense gebied; verskeie belangrike kunsuitstallings is deur van voorste kunstenaars aangebied, beginner-kunstenaars kon daar opleiding ontvang en talle mense is met behulp van spesiale, beroepsgerigte kursusse gehelp om nuwe loopbaanskuiwe te maak.

Sophia Passerini se besluit om haar bekende dramaskool van die Paarl na Wellington oor te skuif en om voortaan vanuit die Breytenbach-sentrum jong mense aan die toneelwêreld bekend te stel, lewer volgens Kemp ’n belangrike bydrae tot die vestiging van verskeie ander opwindende nuwe projekte by die sentrum.

Een van die nuwe beroepskursusse wat by die sentrum aangebied gaan word, is ’n kurus in mode-ontwerp en kleremaak en dié studente gaan ingespan word om kostuums vir die dramaskool se opvoerings te maak.

Desiree Malan en Gavin Risi, twee kunstenaars wat kunsklasse vanuit die sentrum aanbied, beplan albei opwindende nuwe kursusse vir 2010.

Malan se gewilde mosaïekkursus gaan na ’n pottebakkerskursus uitgebrei word. Risi beplan ’n nuwe kursus waardeur jong kunstenaars gehelp gaan word om kunswerke uit afvalmateriaal soos gebreekte glas te skep.

’n Ruim skenking van verskeie musiekinstrumente gaan Morné Meyer van die sentrum se musiekskool vanjaar in staat stel om ’n behoorlike orkes op die been te bring.

Die bekende koorgroep, die Mbekweni Black Bafanas begin ook vanjaar met ’n jong koor, die Abanumsana, by die sentrum.

Kemp sê die sentrum wil in 2010 heelwat meer mense as verlede jaar se 3 000 besoekers na die vertonings by die Bôrdienghuis lok.

“Ons teaterkafee bied sitplek vir nagenoeg 80 mense. Ons het daarom besluit om gedurende die somermaande ’n aantal buitelugvertonings in die vierkant voor die Bôrdienghuis aan te bied sodat heelwat meer besoekers die vertonings kan bywoon. Die eerste vertoning, deur ddisselboom, is reeds daar aangebied. Dit is deur 120 mense bygewoon.

“Chris Chameleon bied ons volgende opelugvertoning op 31 Januarie in die vierkant aan. Meer as 250 mense het reeds daarvoor plek bespreek. Ná hom sal Stef Bos op 13 Februarie ’n buitelugvertoning aanbied.”

Al die aktiwiteite by die sentrum, van die musiekskool tot die dramaskool en die beroepsgerigte kursusse, is afgespits op die groot Kersfees wat later in die jaar by die sentrum aangebied gaan word. By die week- ­lange fees gaan daar daagliks toneelopvoerings aangebied word en daar sal stalletjies wees waar studente hul produkte kan verkoop.




More News
  • Natural burials arrive in South Africa
  • Lofprysing Oppiberg
  • Bonsai Kai vergader
  • Benefit concert
  • Have a lazy day braai
  • Staan op in moeilike tye
  • Boeresport by fondsinsamelingsdag
  • Local schools shine in debate
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za