Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


‘Jackpot’ wink vir Jacquin

‘Jackpot’ wink vir Jacquin
 
2010-01-28


TOT sowat drie maande gelede is die lewe se beste kaarte nooit regtig in Jacquin April se rigting uitgedeel nie.

Hy het behoorlik getwyfel in sy vermoëns aangesien geleenthede maar beperk is vir ’n 15-jarige parapleeg.

Dinge het egter skielik verander, amper in ’n oogwink, toe Jacquin die eerste keer kennis gemaak het met Nico Swiegers (met sy lewe wat skielik onderstebo gedraai was, moes Jacquin sweerlik gevoel het of hy die ‘Jackpot’ geslaan het).

Alles het gebeur tydens ’n uitreikprojek deur die Hawequa Jeugsentrum van Korrektiewe Dienste wat verlede jaar, gedurende die wintermaande, twee keer per week toebroodjies en sop voorsien het aan leerlinge van die Wellingtonse plaasskool, Blouvlei Primêr.

Swiegers, voorsitter van Hawequa se inrigtingskomitee, het die eerste keer vir Jacquin gewaar tydens een van dié besoeke.

Swiegers vertel: “Toe ek vir Jacquin die eerste keer daar sien sit in sy rolstoel, kon ek nie help om aan rolstoelatleet Ernst van Dyk te dink nie,” sê Swiegers.

Swiegers het onmiddellik begin ondersoek instel na Jacquin se toestand en handfietsry in die algemeen.

Met die hulp van dr Susan Ferreira van die Universiteit van Stellenbosch se sportwetenskap-afdeling, is daar bevestig dat Jacquin medies geskik is om dié sportsoort aan te durf.

Een van Swiegers se grootste kopsere is ook opgelos toe die Maties Helderberg Sportklub, die klub waaraan Jacquin nou behoort, ingestem het om ’n handfiets op ’n leenbasis beskikbaar te stel.

Op 14 Oktober het Jacquin die fiets ontvang en op 24 November was hy vir die eerste keer vasgegordel en slaggereed om sy eerste liga-wedren te Klein Joostenberg aan te pak.

Wat aanvanklik net ’n stokperdjie vir Jacquin sou wees, het toe skielik ontaard in iets meer as net tydverdryf.

Jacquin het na afloop van slegs sy tweede wedren, op 28 November, sommer ’n plek losgery in die WP-span om vanaf 25 tot 31 Maart aan die nasionale kampioenskappe te Port Elizabeth deel te neem.

Swiegers word dikwels gevra hoekom hy op handfietsry besluit het, eerder as ’n ander paraplegiese sport vir Jacquin.

Sy antwoord is eerlik en eenvoudig: “Ek het op handfietsry besluit, omdat ek self ’n passie het vir fietsry. Sodoende kan ek vir Jacquin in die middae gaan optel, en ons kan saam oefen.”

Swiegers het juis in 2008 vir die eerste keer nasionale kleure (Korrektiewe Dienste, 49 jaar en ouer) vir fietsry ontvang.

Dan was daar natuurlik ook die inspirasie van Paarl se eie handfietsry-sensasie, Ernst van Dyk?

“Ja, met alles wat Ernst van Dyk al vermag het, is hy definitief Jacquin se rolmodel,” sê Swiegers.

Paarl Post het ’n paar jaar gelede oor Jacquin berig toe hy sy eerste rystoel gekry het, nadat hy vir jare op sy hande moes aansukkel op die plaas waar hy woon, Welbedacht Blouvlei.

Om nou al Van Dyk se hoogtes in sy visier te stel, is ietwat verregaande vir ’n melkbaard soos Jacquin. Dit is egter nie onrealisties om te dink dat harde werk hom wel eendag heel bo sal laat eindig nie, veral met die regte houding.

“Dit is baie harde werk, maar ek hou baie daarvan om te oefen,” sê Jacquin.

Die ure wat Jacquin tydens oefeninge ingesit het, het hy op die proef gestel tydens sy derde wedren die afgelope naweek by Klein Joostenberg.

Jacquin was braaf genoeg om tydens dié wedren dieselfde 16km aan te durf as Van Dyk en die res van die hardebaarde, en hoewel hy nie by dié veterane kon byhou nie, was sy algehele tyd van 53 minute oor 16km steeds baie goed.

“Dit is lekker net om te kan sport beoefen, en om fiets te kan ry maak my baie gelukkig,” sê Jacquin.

Hoewel hy tans ten volle fokus op handfietsry, en reeds droom daarvan om eendag die Paralimpiese span te haal, is Jacquin se talente nie net beperk tot handfietsry nie.

Op uitnodiging van Maties Helderberg het Jacquin ook ’n paar atletieknommers probeer en tydens die diskus-item het hy met sy eerste poging, natuurlik teen alle verwagtinge in, een van die verste afstande van die dag gegooi.

“Hoewel sy fietsry tans prioriteit geniet, sal ons ook vanjaar, tydens die wintermaande, aandag gee aan ’n paar ander sportnommers,” sê Swiegers.

Hoewel deelnemers vir die gewilde Outeniqua Rolstoel-uitdaag, wat op 20 Februarie plaasvind, 16 jaar oud moet wees om te mag deelneem, was die organiseerders so beïndruk met Jacquin se goeie tye dat hulle die reëls bietjie gebuig het vir sy onthalwe.

Swiegers kan gekontak word by 021-864-5812.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za