Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Obsessie met Als reik na die sterre

Obsessie met Als reik na die sterre
 
2010-01-28

Lise Beyers

DIE gewilde jong Paarlse rock-band, Obsessie met Als, gaan steeds van krag tot krag en hul langverwagte eerste vollengte CD word môre uitgereik.

Obsessie met Als is vier jaar gelede gebore, toe drie Gimmies, Heinrich Volschenk, Pierre van Zyl (Van der Naam) en Evan Scheepers hul liefde vir musiek ’n vlak verder gevat het en die band gestig het.

Nou is dié melkbaarde uit die skool uit en ook nie meer eintlik melkbaarde nie. En nou spits hulle hul toe op hul musiekloopbaan.

Alhoewel een of twee bykomende lede deur die jare gekom en gegaan het, bly hierdie drie manne onafskeidbaar in hul musiek en vriendskap.

Die nuutste lid wat die band nou bystaan, is die gesoute kitaarspeler, David van Zyl van Vishoek. Hy is ’n bietjie ouer as die ander lede en bring dus meer ervaring na die groep.

In ’n kort tydjie het hul energieke, omstrede musiekstyl heelwat aandag getrek, onder meer by groot name soos dié van Van Coke Kartel en AKing. En so is hulle genooi om op verskeie geleenthede saam met hulle op te tree.

Bo en behalwe dit is hulle gedurig op die pad om op te tree in en om die Boland en Skiereiland.

Verlede jaar is hul eerste musiek-video, “Klaar te Laat”, met groot applous uitgesaai op die gewilde musiek-kanaal, MK.

Met die loodsing van hul CD, “Splinternuwe Moeilikheid”, beoog hulle ’n bekendstellingstoer van die Wes-Kaap, die “Dans met jou Ma se Toer”.

Dit skop op 5 Februarie by Die Balke op Worcester af en dan is hulle ook genooi om op 11 Februarie by die jool op Wellington op te tree, waar hulle die verhoog sal deel met Zinkplaat en Die Heuwels Fantasties.

In hierdie tydperk tree hulle ook by Khemia Lounge in die Paarl op.

En ten spyte van hul besige skedule kry Heinrich en Pierre nog tyd om ’n rock-program aan te bied op radio KC en hulle doen ook konsultasiewerk vir MK.

Hierdie manne het ’n ware passie vir wat hulle doen en hulle spandeer soveel tyd moontlik saam om te oefen.

En met hierdie deursettingsvermoë en wil, reik hulle behoorlik na die sterre. Navrae by Heinrich 083-658-1622.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za