Tiere val weer vas
2010-01-28
NADAT Young Peoples Krieketklub Saterdag teen Paarl-Oos en Sondag teen Maties vasgeval het, is hulle nou behoorlik op die agtervoet. Tydens Sondag se wedstryd teen Maties, het Peoples eerste gekolf en 185/5 aangeteken in 45 boulbeurte, danksy goeie vertonings deur Justin Ontong (56), Brendon Adams (31) en Dominic Daniels (49*). Die Tiere het redelik goed geboul en veldwerk gedoen, maar kon eenvoudig nie Stellenbosch se studente hokslaan nie. Maties het die teiken in die laaste boulbeurt behaal om die oorwinning te verseker. Peoples se beste bouler was Lorenzo Jacobs (2/40). Peoples se tweede span het ook verloor met 3 lopies teen Van der Stel op Stellenbosch. Peoples is die reuse-taak gestel om 256 lopies aan te teken om te wen, maar het met reëlmaat paaltjies verloor in ’n poging om dié lopies positief te jaag. Mark Borchards (85), Herschelle Barron (25) en Ashfaq Ahmed (37) het moedig probeer met die kolf. Vroeër die dag het Riaan Damonse (4/42) skitterend geboul vir die Tiere. Die derde span het vergoed deur Brackenfell met 5 paaltjies te klop. Die Brakke kon slegs 129 lopies behaal. Vir Peoples het Luke Snelling (2/13), Jermaine Buys (2/10), Marlin Carolissen (2/14) en Cameron Engelbrecht (3/31) fantasties geboul. Peoples kon die wenteiken reeds in die 25ste boulbeurt behaal, danksy goeie kolfwerk deur Stanton Kamalie (52*). Saterdag speel Peoples I weg teen Vd Stel. Die tweedes speel tuis teen Wellington II en die derdes tuis teen Coronations III. Sondag speel die derdes tuis teen Northdene.
More
News
|