Stroopsoet sege
2010-01-28
Engela Duvenhage
IN ’n naelbyt-finaal wat eers met die laaste bal beslis is, het die Wellington Three Ships-krieketspan verlede Saterdag geseëvier in die jaarlikse Wellington Krieketklub Bella Roma Ses-aan-’n-Kant-kompetisie. Dié oorwinning was besonder soet vir kaptein Rudi de Bruyn, wat die afgelope paar jaar gereeld spanne verteenwoordig het wat uiteindelik in die finaal van die kompetisie die knie moes buig. Die Wellington-span het kragte gemeet teen die jong manne van die Superheroes Bella Roma span. Wellington, wat eerste gekolf het, het veral danksy die vernuftige swaaiwerk van Sarel Wolmarans meer as 70 lopies opgestapel. Superheroes het goed begin, maar is in die finale beurte met slim boulwerk ingeperk. Hulle het uiteindelik ’n ses van die laaste bal nodig gehad om te kan wen, maar krieketgeluk was nie aan hul kant nie. Benewens De Bruyn en Wolmarans het die Wellington-span ook bestaan uit Pieter Rabie, Andy Watts, Kobus Pienaar en Renier Lourens. Die besoekende span van Noordhoek het in die Plaatkompetisie geseëvier.
More
News
|