DBV is dankbaar
2010-02-04
Christine Siebrits
DIT was aan die einde van verlede jaar so hittete of die Wellington DBV moes sy deure sluit. Die situasie is egter ontlont en die werksaamhede by die Wellington DBV kan voortgaan. Hiervoor wil Anne-Lida Schlemmer, Sanet du Toit en Colleen Mcqueen hul innige dank uitspreek aan alle weldoeners, donateurs en vriende van die DBV wat hulp en ruim donasies geskenk het om die DBV aan die gang te hou. Alle beloftes is nog nie nagekom nie, maar die bestuur is vol moed dat hul ook die agterstallige beloftes eersdaags sal kry. Mense wat nie hul diere meer wil hê nie, is welkom om hulle na die tak te bring, waar hul versorg kan word (dit is nie nodig om hulle weg te gooi of op die treinspoor te laat nie). Daar is iemand 24 uur van die dag, sewe dae per week op die terrein om te help. Daar is tans twee pragtige en lieftallige honde by die Wellington-tak wat besig is om te kwyn omdat hulle treur. Kaptein (’n langhaarterriër) en Tara (’n opreggeteelde herdershond) is albei gesinshonde en wil graag weer by ’n huisgesin gaan woon. Indien u graag die honde wil besigtig, skakel 021-864-3726. Donasies kan inbetaal word by Nedbank rekeningnommer 1022002074 (takkode 102905).
More
News
|